Beloning uitgeloof vir inligting oor vermiste ysterman-atleet

David Bellet-Brissaud (Foto verskaf deur SAPD)

Die familie van David Bellet-Brissaud, die vermiste 48-jarige ysterman-atleet van Gaboen, het Maandag tydens ʼn perskonferensie ʼn beloning van R12 000 uitgeloof vir enigiemand wat inligting aan die polisie verskaf wat tot die atleet se opsporing kan lei.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die beloning uitgeloof is. Naidu sê die familie hoop dié beloning kan lei tot antwoorde oor Bellet-Brissaud se raaiselagtige verdwyning.

Die atleet se vrou, wat intussen as Lydia Bellet-Brissaud geïdentifiseer is, sy broer, Gael, en sy suster, Vanessa, is volgens haar steeds in Suid-Afrika om die polisie by te staan in die ondersoek.

Naidu sê die polisie het in dié stadium geen leidrade nie aangesien die ondersoekspan nié daarin kon slaag om die atleet op te spoor deur middel van ʼn opsporingtoestel in sy horlosie nie. Naidu het vroeër gesê die polisie het by Garmin, die vervaardiger van die horlosie, aangeklop in die hoop dat inligting oor waar die atleet hom bevind op só ʼn wyse verkry kon word.

“Garmin het reeds aan die polisie bevestig dat die horlosie nie nagespoor kon word nie aangesien dit nie ʼn opsporingtoestel bevat het nie,” sê sy.

Naidu sê die polisieondersoek duur voort.

Maroela Media het vroeër berig Bellet-Brissaud en sy vrou het Donderdag omstreeks 15:20 by die Paxton-hotel in Port Elizabeth ingeteken. Hy was in Port Elizabeth om aan die Ysterman Afrika-kampioenskap deel te neem. Die egpaar was saam met vriende uit, maar het omstreeks 21:00 na hul kamer teruggekeer. Sy vrou het Vrydag 01:00 wakker geword en Bellet-Brissaud was nie in die kamer nie.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys Bellet-Brissaud het die kamer verlaat, uit die hotel geloop en in die straat af gestap. Hy het sonder sy selfoon en beursie spoorloos verdwyn en is nog nie weer gesien nie.

Enigiemand wat Bellet-Brissaud sien, word versoek om ao. Eric Mathews te bel by 083 380 3714. Die polisie het ook ʼn beroep op restaurante en kroeë langs die strandfront gedoen om hul kringtelevisiebeeldmateriaal van die afgelope paar dae na te gaan ingeval Bellet-Brissaud dalk deur een van die kameras vasgevang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lollie ·

Ek voel baie jammer vir hierdie familie oor die onsekerheid waarin hulle verkeer maar ek moet ook sê: Julle is in SA, julle moet die ergste verwag!
Hierdie is nie die land van melk en heuning nie of die stad van goud nie nog minder die paradys! Ons is gebore landsburgers en ons vrees elke liewe dag vir ons en ons families se lewens!
Ander lande moet wakker word! Indien jy moeg is vir jou lewe of terminaal siek is en ń einde aan jou lewe wil maak, dan kom jy SA toe!
Ek hoop van harte dat hy een van die gelukkiges is en lewend gekry sal word!

Adri ·

Wat hierdie familie en ander buitelandse besoekers moet weet, is dat die regeringsamptenare wat sus en paai en beweer alles in die land in hônkiedôrie, lieg! Hulle moet maar ‘n betjie huiswerk doen voordat hulle na hierdie wonderlike land toe kom.

Johann ·

Welkom in die REGTE SA, die HUIDIGE SA, nevermind die “nuwe SA”, waar geweld en moord en afbrand en verwoes volgens die ANC als OK is? Hiers niks fout nie… ja wel as dit als deel is van jou ANC ANARGIE status om mag te behou, is als seker OK?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.