Beloning uitgereik ná man op plaas geskiet word

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Beloning is uitgereik vir enigiemand wat inligting kan verskaf rondom die man wat Woensdag in die vroeë oggendure ʼn bejaarde egpaar op ʼn plaas buite Brits in Noordwes oorval en die 77-jarige man geskiet het.

Gerhard en Beatrice Badenhorst is omstreeks 02:00 in hul huis op die plaas deur ʼn enkele aanvaller oorval wat met ʼn mes gewapen was. Volgens Johan Badenhorst, die egpaar se seun, vermoed hulle daar was ʼn tweede aanvaller wat buite die huis gewag het ten tyde van die aanval.

Badenhorst vertel die aanvaller het in die huis in gekom deur ʼn breekyster te gebruik om die veiligheidshek en deur oop te breek. “Hy het terwyl my ouers geslaap het my ma se handsak, hul selfone en klere gevat en eers deur die goed gegaan. Daarna is hy na die kamer waar hy my pa wakker gemaak het.”

Volgens Badenhorst het Gerhard ʼn rewolwer by hom gehad en wou hy homself verdedig, maar die aanvaller kon daarin slaag om die vuurwapen by hom af te neem. “Hy het die vuurwapen op my ma ook gerig en in gebroke Afrikaans vir haar gesê hy sal haar doodskiet,” sê hy.

In hierdie tyd het die aanvaller ʼn skoot op Gerhard afgevuur voordat hy op die vlug geslaan het. Gerhard is in sy skouer gewond, maar volgens Badenhorst het die koeël hom net skrams getref en het hy dus net ʼn vleeswond opgedoen. Hy is later na ʼn hospitaal geneem, maar dieselfde dag nog ontslaan.

“Daar was bloed aan die veiligheidshek nadat die aanvaller gevlug het, so ons vermoed dat hy ook in die proses beseer is, waarskynlik aan sy hand.” Die aanvaller het drie selfone en die rewolwer geroof.

“Ek glo nie dat hy gekom het om moord te pleeg nie. Ek dink hy wou net die kluissleutels gehad het – hy het seker gedink daar is dalk kontant in die kluis.”

Gerhard Badenhorst se wond nadat hy geskiet is. Foto: Verskaf

Badenhorst, wat op ʼn plaas net oorkant van sy ouers bly, het dadelik na die toneel gehaas toe hy die oproep van sy pa kry. “Op pad na hulle huis toe het ons die man sien hardloop, maar ons het in daardie stadium nie geweet hoe ernstig my pa beseer is nie, so ons wou eerder by hulle uitkom om hulle te help as wat ons die man agternasit,” sê hy.

Hy sê hy vermoed dat die aanvaller moontlik ʼn voormalige werker kan wees of iemand wat die perseel baie goed ken.

Badenhorst het ʼn beloning van R10 000 uitgereik vir enigiemand wat inligting kan verskaf wat kan help om die aanvallers aan te keer. “Ek is oortuig dat ons hulle wel sal opspoor. Ons het reeds die woord oor die beloning onder die plaaslike gemeenskap versprei en ek is vol vertroue dat iemand na vore sal kom met inligting.”

Kapt. Aafje Botma, woordvoerder van die polisie, het bevestig niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Intussen het die Badenhorst-egpaar se familie hulle gestuur om vir twee weke lank by die kus te gaan uitspan om die traumatiese voorval te verwerk. “Dit gaan onder omstandighede goed met hulle. Hulle is natuurlik getraumatiseerd, maar hanteer dit eintlik oukei. Ek dink dit is goed dat hulle nou net bietjie kon wegkom en die hele ding verwerk,” sê Badenhorst.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kyk op ·

Dankie Here dit was vleiswond.
Sterkte vir herstel ons bid vir beskerming
Daar SAL einde kom!
Kole onder pot SAL geblus word deur geweld se eie toedoen.

Sê maar net ·

HOERA, nou kom julle by om belonings uit te reik. Dit sal hopelik vinniger die misdadigers vasstrek.

Pik ·

Ek dink dit is verkeerd om beloning aan te bied nou sal hulle meer toeslaan om geld te kry van ons af tronk is uit vir hulle of jy is in en vlg dag uit die SAPS ens moet hulle werk doen waarvoor hulle betaal word

Elsa ·

Ek is baie dankbaar dit was nie nog ‘n paasmoord nie en dat die egpaar se lewens gespaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.