Beloning vir inligting oor inbraak by Zondo

Die twee verdagtes wat duidelik op beeldmateriaal vasgelê is. (Foto: SAPD)

Die polisie in Gauteng het ʼn kontantbeloning uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en geslaagde vervolging van minstens drie verdagtes wat verlede naweek by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se kantore in Johannesburg ingebreek het.

ʼn Rekenaar en twee rekenaarskerms is Sondag by die kommissie se kantore in die Hillside-gebou in Parktown gebuit.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê voorlopige inligting dui daarop dat minstens drie verdagtes by die rooftog betrokke was. Dit blyk ook uit die beskikbare inligting dat die verdagtes gewapen was ten tyde van die rooftog.

Die polisie het intussen beeldmateriaal bekom waarop twee van die drie verdagtes duidelik vasgelê is.

Volgens Peters is die identifisering van hierdie verdagtes van kernbelang in die ondersoek vandaar die beloning vir inligting.

Die inbraak het Sondag in die vroeë oggendure by die Hillside-gebou in Parktown plaasgevind.

Maroela Media het vroeër berig dit is die tweede voorval in die bestek van twee weke wat by dié kantore aangemeld is. ʼn Skoot is die vorige naweek deur die biblioteek se venster afgevuur. Die koeël is die Maandagoggend op die vloer aangetref.

Enigiemand met inligting rakende die jongste voorval word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, lt.kol. Mathothe, by 079 694 6404 te bel.

Die polisie het mense gewaarsku om nie die verdagtes te konfronteer nie aangesien hulle gevaarlik kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SwartBees ·

Begin sommer eerste om ons goeie ou vriend Zumpie te ondervra.

SomeOne ·

hulle moes of baie haastig gewees, of redelik blind om nie die kameras te sien nie
praat van die hoeveelheid geld, dan sal jul sien hoe vinnig word hul gevang

Maggies ·

Probeer hulle bewysstukke vernietig of dalk omruil met vervalste dokumente? Mens kan net wonder.

Piet parys ·

Dalk gee hulle ander kollega hulle weg en dan kan hulle mos die prysgeld deel . Manier om geld uit die staat te maak. Die vonnis sal lig wees en na 2jr van 5 ster behandeling in die tronk het hulle geld om te blaas. . Want in die tronk kos dit mos niks nie. Net die belastingbetalers wat die spit afbyt.

Sonja ·

Soos dit vir my lyk, is die 1 man geklee in sy Sekuriteits Uniform…….

Mariana ·

Vra hulle vir wie hulle gewerk het en hoeveel hulle betaal is.

Willempie ·

Kan maar net raai wie verantwoordelik is vir hierdie optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.