Die polisie in Gauteng doen ʼn beroep op die publiek om na vore te kom met inligting oor twee skietvoorvalle in die vroeë oggendure op Nuwejaarsdag by ʼn restaurant in Melville en by die Mary Fitzgerald-plein in Johannesburg.
Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê die soektog na die verdagtes duur voort.
Maroela Media het vroeër berig minstens twee persone is dood en ses persone beseer tydens ʼn skietery op Nuwejaarsdag omstreeks 01:00 by Poppy’s-restaurant in Melville.
Skote is omstreeks 02:30 gevuur in Mary Fitzgerald-plein in Newtown, Johannesburg. Elf persone, sewe mans en vier vroue, is gewond en na hospitale geneem. Die skieter het verskeie skote van die boonste vlak van die M2 (suid)-dubbeldekkerbrug gevuur en vermoedelik die BBP-gebied geteiken.
ʼn Kontantbeloning word aangebied aan enige individu wat inligting kan verskaf oor enigeen van dié voorvalle, op voorwaarde dat die inligting lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die verdagtes.
Enigiemand met inligting oor die skietery in Melville kan kapt. Maneta kontak by 082 411 4677. Persone met inligting oor die skietery by die Mary Fitzgerald-plein kan kapt. Masilela kontak by 082 319 9403.
Nou gaan hoor by Lesufi of hy julle nie kan help nie, hy het dan laas week toe hy as premier waargeneem het beduie die skuldiges sal binnekort aangekeer wees.