Beloning vir inligting oor plaasaanval

(Argieffoto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die Oos-Kaapse polisie is steeds op die spoor van die vyf verdagtes wat verlede Woensdag ’n egpaar op hul plaas tussen Alicedale en Paterson oorval en beroof het. Die familie het intussen ook ’n beloning van R250 000 uitgeloof vir enigiemand wat inligting het wat tot die inhegtenisnemings van die verdagtes kan lei.

Maroela Media het vroeër berig Erica (48) en Andri Fox (49) het op 14 April net ná 19:00 gesit en televisie kyk toe hul Jack Russell met ’n spoed by die vertrek inhardloop en histeries begin blaf het. ’n Amerikaanse gas, wat die egpaar gehuisves het terwyl hy op die plaas gejag het, was in daardie stadium in ’n ander vertrek besig met ’n oproep. Hy het ten tyde van die aanval vreesbevange en kaalvoet na ’n nabygeleë natuurreservaat gevlug en daar gaan wegkruip.

Die verdagtes het altesaam vier vuurwapens, waaronder twee haelgewere en die dollarnote, uit die egpaar se kluis gebuit. Hulle het ook op juweliersware aangedring.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het bevestig niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

“Die ondersoek gaan intussen voort en die polisie volg alle moontlike leidrade op,” sê Soci.

Erica vertel Loodt Buchner van Tootabi Hunting Safaris digby Paterson het na die aanval op ʼn klomp WhatsApp-groepe vir mense om hulp gevra om die verdagtes op te spoor.

“Hy het onder meer vir hulpbronne gevra wat kan help met die soektog, soos brandstof vir die helikopter,” vertel Erica aan Maroela Media. “Mense het wyd en syd begin help en bydra. Die idee van ’n beloning het toe ook opgeduik.”

Eardley Rudman van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het Buchner toe gekontak en vertel dat Phasa oor ’n rekening beskik wat spesifiek bedoel is vir sulke belonings. Die rekening is aan die egpaar beskikbaar gestel waarin geld vir die beloning inbetaal kon word. Mense het hul harte oopgemaak en R250 000 is vir die beloning ingesamel.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir almal wat geld geskenk het. Ons wil ook dankie sê vir al die weldoeners wat die aand van die aanval hulpbronne aan ons beskikbaar gestel het.”

Dit is nou al ’n week na die aanval en volgens Erica probeer sy en Andri kop bo water hou.

“Ons vat dinge dag vir dag. Ons is ’n tweede kans gegee en ons moet dit ten volle gebruik.”

Volgens Erica gaan die Amerikaanse gas vir nog ’n maand by hulle bly. Sy sê dit gaan al beter met hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dup

Kry een van die VSA se “gunships”,dit is al wat gaan help.Ek sien ook nêrens dat die omliggende dorp geplunder word en betogers op en af spring en sing nie…….

JM

Hoop die Amerikaanse gas gaan wyd en syd in Amerika verkondig hoe dit in die “gangster paradise”: Suid-Afrika gaan. Hy het dit mos eerstehands ervaar!