Beloning vir Kaapse boef uitgeloof

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

Die Wes-Kaapse polisie het vandeesweek ʼn beloning uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte wat verbind word met ʼn aantal ernstige en gewelddadige misdade in die provinsie.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, word Yanga Endrey Nyalara (30), ook bekend as Bara, gesoek vir misdade wat in Khayelitsha en Kaapstad vanaf 2016 gepleeg is.

ʼn Beloning van R50 000 is uitgeloof vir enige inligting oor waar Nyalara hom bevind.

Nyalara se misdadige bedrywighede het in Kaapstad begin toe hy in 2016 by ʼn sakeroof betrokke was. Tussen 2018 en 2022 was hy glo by ander misdade in Khayelitsha betrokke. Hy word ook gesoek vir ʼn transitorooftog in 2018 in Libode in die Oos-Kaap.

Indien Nyalara vasgetrek word, sal hy teregstaan op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding, besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van onwettige ammunisie.

Lasbriewe vir sy inhegtenisneming is al deur vier verskillende ondersoekbeamptes uitgereik.

“Brig. Makhaya Mkabile, kol. Leon Hanana, lt.kol. Bonginkosi Libala en lt.kol. Victor Norman Galant is dringend op soek na enigiemand wat lig kan werp op waar Nyalara hom bevind,” sê Van Wyk.

“Mense kan die betrokke ondersoekbeamptes onderskeidelik by 082 222 6744, 082 522 2281, 082 411 2042 en 082 469 1539 bel.”

Volgens Van Wyk kan Nyalara as gewapen en gevaarlik beskou word.

“ʼn Kontantbeloning word aangebied vir inligting van lede van die publiek wat kan lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van Nyalara.

“Alle inligting wat ontvang word, sal vertroulik hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê Ook Maar Net ·

‘N Foto sal baie gehelp het. Ek is seker met sy rekord moet daar ‘n foto wees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.