‘Bemagtig eerder polisie met vredesbeamptes se R50 miljoen’

Panyaza Lesufi, Gautengse premier. (Foto: Twitter)

Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, kon eerder die R50 miljoen wat aan die opleiding van 6 000 vredesbeamptes bestee is, gebruik het om die polisie in die provinsie van noodsaaklike hulpbronne te voorsien.

Só sê Kobus Hoffman, VF Plus se lid van die provinsiale wetgewer.

“Alhoewel die polisie se begroting van die nasionale regering kom, kon die Gautengse regering die R50 miljoen bykomend gebruik het om polisie te bemagtig om hul werk beter uit te voer. Dit is algemeen bekend dat die polisie in Gauteng nie oor genoeg voertuie, wapens, ammunisie en selfs skryfbehoeftes beskik nie.”

Hoffman sê in sommige gevalle moet polisielede uit hul eie sak brandstof in voertuie gooi of van hul privaat voertuie gebruik om na misdaadtonele te gaan.

“By sekere polisiekantore het polisielede nie eens die basiese skryfbehoeftes soos penne en papier nie. In stede daarvan om 256 splinternuwe BMW-voertuie aan vredesbeamptes te gee wat ʼn skamele drie maande-opleiding agter die rug het, kon die voertuie eerder aan polisiekantore geskenk geword het waar daar ʼn dringende behoefte aan voertuie bestaan.”

Lesufi het op ʼn vraag van die VF Plus in die Gautengse wetgewer te kenne gegee dat die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid die kostes van litigasie en skadevergoeding sal moet dra indien eise ingestel word teen vredesbeamptes wat onregmatig optree teenoor die publiek.

Dit is onbekend of die departement begroot het vir hierdie soort uitgawe.

“Die VF Plus verwelkom enige poging om misdaad in Gauteng te bekamp, maar twyfel of Lesufi se vredesbeamptes oor die vermoë beskik om geharde misdadigers van die strate te haal. Gauteng het ʼn sterk en kundige polisiemag nodig met genoeg hulpbronne om inwoners te beveilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Die man is onstabiel en het een doel voor oe om die ranks binne die ANC te klim ASAP

Stofdonkie ·

Hulle het nie eers nodig om nuwe voertuie aan te koop nie, herstel net die wat orals stukkend staand. By party stasies staan voertuie bloot omdat hulle ‘n pap band het. As die voertuie almal net herstel word wat so rondstaan is die tekort aan voertuie heel waarskynlik opgelos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.