Bemanningslede dood, beseer op skip

Argieffoto Foto: shopwestcoast.co.za

ʼn Ongeluk aan boord van ʼn skip het vyf bemanningslede beseer en een dood gelaat. Die vaartuig met ʼn hyskraan met die beseerde Brasiliaanse bemanningslede is Dinsdag omstreeks 09:30 op pad na Durban gewaar.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Netcare 911-paramedici en die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) is toe deur die seereddingskoördineringsentrum (MRCC) ontbied.

Afgesien van die vyf beseerdes het een bemanningslid reeds aan sy beserings beswyk.

Volgens Jonathan Kellerman, NSRI se Durbanse stasiebevelvoerder, het daar ʼn ongeluk op die vaartuig plaasgevind wat tot die ongevalle gelei het.

Om 17:30 het twee helikopters van die Suid-Afrikaanse Lugmag, tesame met paramedici van Netcare911 en die NSRI, van Durban na die skip gevlieg. Die helikopter het op die skip se dek geland.

Paramedici het toe die vyf beseerdes aan boord behandel. Vier van die beseerde bemanningslede was in ʼn stabiele toestand en een in ʼn kritieke toestand toe hulle per helikopter na ʼn hospitaal in Durban geneem is vir verdere mediese sorg. Die kaptein van die skip het versoek dat die liggaam van die bemanningslid wat gesterf het aan boord gehou moet word.

Volgens Kellerman is die toestand van die vyf bemanningslede stabiel en sterk hulle goed aan in die hospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.