Bemanningslid sterf op luukse boot

Die MSC Orchestra. (Foto: Emile Hallaby)

Die polisie is tans besig met ʼn geregtelike doodsondersoek in die Maydon‑kaai van die Durbanse hawe in KwaZulu-Natal nadat ʼn bemanningslid van die MSC Orchestra Donderdag op dié luukse boot dood is.

Die 29-jarige vrou, vermoedelik ʼn Suid-Afrikaner, was glo ten tyde van haar dood aan diens. Die boot sou Vrydag uit die Durbanse hawe vertrek.

Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het nie die oorsaak of wyse waarop sy dood is by navraag bevestig nie.

Hy sê die polisie is in dié stadium besig om die omstandighede van haar dood te ondersoek.

Ross Volk, besturende direkteur van MSC Cruises, sê die maatskappy was reeds met die familie in verbinding.

Volgens hom lyk dit of die bemanningslid se dood ʼn ongeluk was.

Die MSC Orchestra. (Foto: MSC Cruises)

“Haar dood, wat ons glo ʼn ongeluk was, word soos gebruiklik onder sulke omstandighede deur die plaaslike owerhede ondersoek. Ons sal voortgaan om ons hulp in dié verband te verleen.

“Ons was in verbinding met haar familie en betuig ons innige meegevoel aan hulle met hul verlies,” het Volk Woensdag aan Maroela Media gesê.

Crew Centre, ʼn platform wat deur voormalige bemanningslede gedryf word, het die vrou se dood intussen op hul webblad betreur.

Luidens ʼn inskrywing op die webblad was die vrou ʼn Suid-Afrikaner en was dit haar eerste kontrak.

Die voorval het glo in die bemanningsgebied plaasgevind. ʼn Bron van Crew Centre beweer dat die vrou ʼn ernstige besering opgedoen het. Daar is egter nie oor die aard van haar besering uitgebrei nie.

“Daar was ’n mediese noodaankondiging op die skip en mediese personeel het die bemanningslid te hulp gesnel. Ongelukkig kon hulle nie die bemanningslid red nie.

“Ons gedagtes en gebede gaan uit na die bemanningslid se familie, vriende en kollegas.”

Die boot het in Januarie vanjaar vaarte na Suid-Afrika hervat nadat hul bedrywighede vir ’n maand onderbreek was. Die skip onderneem drie- en vier-nagreise van Durban af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Genade, watter tipe ongeluk kan op ‘n boot ‘n bemannigslid se lewe eis? Dan is /kan die reisigers/toeriste se veiligheid mos nie gewaarborg word nie.

ES ·

Sy kon dalk met ‘n skerp voorwerp soos ‘n mes of sker geval het, dis nie te se dat dit nou vir almal onveilig is nie.

Thys ·

Die gerugte oor hoe sy dood is, is verkeerd. Bemanningslede aanboord het reeds bevestig dit was n ongeluk, maar besonderhede word op versoek van die familie weerhou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.