Bemiddeling tussen spogskole aanbeveel ná ‘rassevoorval’

Michaelhouse (Foto: Michaelhouse, Facebook)

’n Ondersoek ná die beweerde rassevoorval wat op 27 Mei tussen leerlinge van die spogskole Michaelhouse en St John’s College plaasgevind het, is afgehandel.

Daar is na afloop van die ondersoek besluit dat die betrokke seuns ’n bemiddelingsproses moet begin. Albei seuns en hul ouers het op hierdie versoenende stap ooreengekom en dit word deur al die betrokke partye gesteun.

Maroela Media het vroeër berig ʼn speler van Michaelhouse, geleë in KwaZulu-Natal se Middelland, het na bewering tydens ʼn eerstespan-hokkiewedstryd ʼn rassistiese uitlating teenoor ʼn speler van St. John’s College, in Johannesburg, gemaak.

Die sportdag is gevolglik gekanselleer en volgens die verklaring is die leerder wat glo die opmerking gemaak het, geskors hangende ʼn formele dissiplinêre verhoor.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring deur die skole blyk dit uit die ondersoekverslag dat die seun van Michaelhouse uit die staanspoor sy betrokkenheid by die rassevoorval ontken het.

Gegrond op die onafhanklike regskonsultant se geskrewe verslag en daaropvolgende terugvoer, kon ’n definitiewe beslissing nie gemaak word nie. In belang van albei seuns by die voorval betrokke, is ʼn bemiddelingsproses aanbeveel.

“As die bevindinge skuld getoon het, sou daar met ’n normale proses voortgegaan word, wat ’n dissiplinêre verhoor sou behels,” sê Antony Clark, rektor van Michaelhouse, en Stuart West, uitvoerende skoolhoof van St. John’s College, in ’n gesamentlike verklaring.

“Die algehele proses van bemiddeling – en die vertroulikheid van die verslag – is deur albei seuns, hul ouers en die hoofde van albei skole ooreengekom.”

Volgens die verklaring sal albei hoofde van die skole betrokke wees by die kortlys van senior, ervare bemiddelaars en sielkundiges.

“Dit sal aan die seuns en hul ouers voorgehou word sodat hulle kan kies met watter professionele persone hulle tydens bemiddeling wil saamwerk. Ouers sal toegelaat word om tydens hierdie sessies teenwoordig te wees.

“Hierdie bemiddelingsproses is ontwerp om alle partye kans te gee om ’n tree vorentoe te gee tot versoening en om die verhoudings tussen albei skoolgemeenskappe te herstel.”

Volgens die skole was dit ’n uitdagende tyd vir die betrokke seuns, hul ouers en albei skoolgemeenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anton ·

Wat ‘n spul nonsens!!
In enige ontwikkelde samelewing sou die insident afgelag gewees. Die ou verdruktetjies kan nie by bly nie en hol vir die geringste dingetjie pers toe. Die rugraatlose “opvoeders” speel saam

melaney ·

@Anton dit is presies waarvoor hulle wag. Hulle weet hulle gaan ‘n bohaai opskop. Erger nog, ons mense val elke keer in dieselfde strik.

Harley Davidson ·

Die sogenaamde rasse voorvalle is en word aangeblaas deur die media om sensasie na te jaag wat is ‘n rasse voorval wie ken die definisie of is dit rasisties om na iemand se kleur te verwys is daar dalk ‘n kenner op die gebied wat ons die publiek meer kan inlig.

Samuel ·

Hierdie is regtig ‘n onsinnige gejaag na wind. Is daar dan niks in Suid-Afrika wat nie meer rassisties is nie? Ek is só moeg vir die gesanik van die agtergeblewenes, die MRK en die onderwysers wat so ruggraatloos optree.

Carel ·

Previously Disadvantaged “snow flake” kan mos Carte Blanche Currently Disadvantaged leerlinge valslik beskuldig. . . Weet iemand wanneer die Mense Regte Kommissie se heksejag datum is??

Nettie ·

Groot bohaai oor waarskynlik niks. Almal is deesdae heeltemal te vinnig op hul perdjies, en dan word sportsdae en eksamens en wie weet wat als uitgestel en kinders moet verskoning vra waar hulle nie eers skuldig is aan iets nie. Gewoonlik net oor hul velkleur. Belaglik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.