Jong man se onopgeloste moordsaak: R30 000-beloning uitgeloof

Ben van der Westhuizen (24). Foto: Verskaf

Ben van der Westhuizen (24). Foto: Verskaf

Die KwaZulu-Natalse polisie het ʼn beloning van R30 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van Ben van der Westhuizen (24) van Vryheid se moordenaars.

Van der Westhuizen is op 21 Desember 2013 vermoor. Sy ma, Erina van der Westhuizen, het Maandag aan Maroela Media gesê dit is meer as ʼn jaar ná haar seun se moord en daar is meer vrae as antwoorde.

“Ben is die dag van sy dood sowat 18:30 uit die huis. Sy suster-hulle het kom kuier vir Kersfees. Ek was besig om kos op te skep toe hy sê hy gaan gou uit. Ek het vir hom gesê hy moet eers eet. Hy het gesê hy gaan vinnig wees en is daar weg sonder om te sê waarheen hy gaan,” het sy gesê.

Van der Westhuizen was ʼn motorwerktuigkundige en is met ʼn motorfiets waaraan hy en sy pa gereeld gewerk het daar weg.

Erina het gesê sy kon nog altyd aanvoel as iets met haar kinders fout gaan, en het presies 20:47 ʼn nare gevoel gekry dat iets met Ben gebeur het. “Ek het histeries geword. Ons kon hom glad nie op sy selfoon in die hande kry nie. Toe ons teen 22:00 niks van hom hoor nie het ek twee plaaslike veiligheidsmaatskappye gebel.”

ʼn Beampte van een van die maatskappye het Erina later teruggeskakel en vertel die polisie is by ʼn ongelukstoneel waarby ʼn jong man en motorfiets betrokke was. Erina se ander kinders het intussen na hul broer gaan soek, en hulle na die toneel gehaas toe Erina vir hulle sê hulle moet na die veld oorkant die boeresaal, naby Bhekuzulu, gaan.

“Toe hulle daar aankom was Ben klaar dood. Die polisie het aanvanklik gedink dit was ʼn motorfietsongeluk, maar my kinders het aan hulle uitgewys dat daar geen skade aan die motorfiets was nie. Ben se beursie, selfoon, valhelm, en die motorfietssleutels was ook vermis.” Van der Westhuizen het gesê sy twyfel of daar geld in die beursie was. “Hy het sy nek beseer en kon vir ʼn ruk nie werk nie, en het dus nie geld gehad nie,” het Erina verduidelik.

Daar is later vasgestel dat Van der Westhuizen dood is weens ʼn hou met ʼn stomp voorwerp teen die agterkant van sy kop. Daar word vermoed dat hy op ʼn ander plek vermoor is en dat sy liggaam en motorfiets op die toneel gestort is.

Die Van der Westhuizen-egpaar was uit die staanspoor nie gelukkig met hoe die polisie die toneel en ondersoek hanteer het nie, en het gesukkel om inligting uit die ondersoekbeampte en sy kaptein te kry. “Ons het ʼn gevoel van onwilligheid gekry, asof hulle nie wou moeite doen nie. Daar is so lank gesloer net om my seun se selfoonrekords te trek en inligting daarna is nie opgevolg nie.”

Van der Westhuizen se foon is later met die hulp van ʼn private speurder opgespoor by ʼn winkel wat herstelwerk aan selfone doen. Volgens die eienaar het iemand dit glo daar ingehandig.

Die polisie het glo slegs ʼn vrou, wat aan Van der Westhuizen bekend was, ondervra en die motief vir sy moord asook hoeveel verdagtes daarby betrokke was, moet glo nog vasgestel word.

Sy ouers het uit desperaatheid ʼn brief aan die minister van polisie en die provinsiale kommissaris gerig en die provinsiale polisie het die ondersoek oorgeneem, waarna die beloning uitgeloof is.

“Verskeie vrae is nog onbeantwoord en die vrae maak ʼn mens mal. My seun is vermoor en ons sal nie ophou soek totdat die skuldiges vasgetrek is nie. Die persone wat dit gedoen het gaan nie daarmee wegkom nie,” het Erina vasberade gesê.

Die beloning is beskikbaar gestel vir enigiemand wat die polisie kan bystaan met die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die skuldiges. Mense met inligting kan die ondersoekbeampte ao. Madonsela bel by 072 524 2796 of ao. Shabangu by 076 740 3091.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tammy ·

My simpatie aan die ouers. Dis so n pragtige jong kind. Jammer om te hoor hoe julle moet sukkel om deur die regsmense gehelp te word. Hulle is soms gewillig maar soms stel hulle ons almal erg teleur. My hart gaan uit na julle. Hoop om sommer gou in die media te sien dat die skuldiges gevang is.

Tammy ·

My simpatie aan die ouers. Dis so n pragtige jong kind. Jammer om te hoor hoe julle moet sukkel om deur die regsmense gehelp te word. Hulle is soms gewillig maar soms stel hulle ons almal erg teleur. My hart gaan uit na julle. Hoop om sommer gou in die media te sien dat die skuldiges gevang is.

sune ·

Dit is so hartseer om te hoor dat polisie n mens so teleurstel my hart gaan uit vir die ouers, Hoop en bid dat julle hulle sal vang en tot ruste kan kom met die saak

sune ·

Dit is so hartseer om te hoor dat polisie n mens so teleurstel my hart gaan uit vir die ouers, Hoop en bid dat julle hulle sal vang en tot ruste kan kom met die saak

Gina Slabbert ·

My hart gaan uit na jul. Die verlies is groot en geldgaan hom nie terug bring nie. Om na n polisie stasie toe te gaan, loop jy jouself teen n muur vas. Vra my ek het dit laas naweek beleef. Dis die mees rasistiese onbeskofte swart personeel wat ek nog gesien het. Die haat wat hul in hul het is duidelik sigbaar. Moenie met die gereg bots as jy wit is nie, jy gaan swaar kry as hul jou toesluit. Mense sterkte vir jul vorentoe en Mag GOD jul help om U seun se dood te verwerk en die skuldige hul dag kry

Hannelie ·

My innige simpatie aan Ben se ouers! Ek bid dat jul antwoorde op al jul vrae sal kry, dat die moordenaar (-s) opgespoor word en dat hul kry wat hul toekom. Ons kan jul net opdra aan God, want ek kan my nie indink waardeer jul as ouers gaan nie. En dis so ‘n pragtige jong man. Dis altyd so jammer dat mens die mense wat jy dink jy kan vertrou en jou help (Polisiediens) daar altyd ‘n teleurstelling is. Daar is hier en daar iemand wat gewillig is om te help, maar verder loop jy jou teen ‘n betonmuur vas, met geen hulp! Baie sterkte.

Theresa ·

Al my simpatie aan die ouers en familie. Wens daar was mense wat in sulke gevalle die ouers kon help SONDER die polisie. Vir hulle is dit onbelagrik. (Almal weet hoekom). Sterkte vir julle. Die skuldigde/s sal wel vasgetrek word. Julle vasberadenheid sal dit bewys.

Susan Berry ·

Ai tog, belonging word uitgereik sodat polisie kan agter oor sit en niks doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.