Bende sit glo agter hoewe-aanval op paartjie

Argieffoto

Die aanval op ʼn paartjie Saterdag op ʼn kleinhoewe in die omgewing van Onderstepoort in Pretoria-Noord is waarskynlik die werk van ʼn bende wat hoewes in dié omgewing teister.

Cobie Jansen van Rensburg, voorsitter van die sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Pretoria-Noord, het aan Maroela Media gesê verskeie soortgelyke voorvalle is onlangs in dié gebied aangemeld.

“Dit is altyd dieselfde beskrywing. ʼn Lang man en ʼn kort man en hulle ontsien niks of niemand nie,” het sy gesê. Die modus operandi was aanvanklik gewapende roof, maar binne ʼn week is twee verkragtings ook aangemeld.

“Hulle gaan nie net om te roof nie, maar nou ook om vroue te verkrag,” sê die ma van een van die jongste slagoffers wat die naweek in ʼn woonstel op ʼn kleinhoewe in die gebied aangerand is.

Haar seun en sy meisie is Saterdag in die vroeë oggendure in hul slaapkamer oorval.

“Dit is al ʼn rukkie dat daar beweging in die omgewing is,” vertel die ma. “My ma het my 02:02 daardie oggend gebel om te sê ek moet paraat wees en na die honde luister.” Omstreeks 03:00 het haar veiligheidsensors afgegaan.

Dié sensors het haar bebloede seun en sy meisie opgetel waar hulle by sy ma se hek om hulp gesmeek het. Dié paartjie woon sowat 200 m van die ma se huis af en was pas aangeval.

Maroela Media het vroeër berig twee gewapende aanvallers het omstreeks 02:30 die diefwering gesny om toegang tot hul huis te verkry.

“Hulle het geslaap en wakker geword toe die twee in die kamer is, die lig aansit en ʼn vuurwapen op hulle rig. ʼn Pistool is teen hul kop gehou en daar was ’n struweling waarna die mans hulle na die badkamer toe gevat het,” vertel die ma.

Hiér het hulle haar seun met ʼn skoenveter vasgemaak waarna hulle sy meisie terug na die slaapkamer geneem en sy deur een van die mans verkrag is. “My seun kon alles hoor en beleef,” vertel sy ma met afgryse.

Die mans het daarna met al haar seun se klere, skoene, linne asook elektriese ware op die vlug geslaan. Hoewel haar seun op die aand die motorsleutels vir die verdagtes aangebied het in ʼn poging om hulle weg te kry, het hulle nie een van die paartjie se motors gesteel nie.

“Hulle het al sy klere gesteel. Alles. Daar is niks in sy kaste oor nie. Een van die verdagtes het voor hom een van sy gordels aangetrek voordat hulle op die vlug geslaan het,” vertel die ma.

Later sou hulle ʼn paar skoene in die sitkamer kry wat aan van die verdagtes behoort. Dit is moontlik dat die verdagte een van haar seun se paar skoene aangetrek het waarmee hy laat spaander het.

Volgens die ma gaan dit in die omstandighede goed met haar seun se meisie, maar haar seun verwerk dit moeilik. “Een oomblik is hy oukei, maar dan ruk hy weer so groot soos wat hy is. Hy voel dat hy meer moes gedoen het …”

Die ma vertel dat die owerhede, asook die speurtak en forensiese span, hulle goed van hul taak gekwyt het om die nodige DNS op die toneel te versamel.

Twee helikopters is ook ingespan om na die verdagtes te soek waarna een só vasgetrek is.

Maroela Media het die betrokke woordvoerder van die polisie genader om die inhegtenisneming te bevestig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kallie ·

Kry Bolhuis om hulle te vang. Dan kan die slagoffers sommer self die teregstelling doen.

Martin ·

Moenie die glory van bolhuis glo nie. Hy het nog niks beteken nie.

Bekommerd ·

Kry eerder die Hawks. Hulle is baie professioneel en het al die hulpmiddele. Ek wil sien dat blankes begin om hul goedgemanierdheid en sagmoedigheid bietjie eenkant toe skuif. Ons het hier met ongediertes te doen wat geen respek of empatie betoon nie. Dis tyd dat ons opstaan vir ons veiligheid. Ons werk hard, is eerlik en eties en maak niemand dood nie, maar so kan dit nie aangaan nie. Beskerm julself.

JB ·

Bolhuis gaan se hulle was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd

Danie ·

Die struikrowers is wreed en gevoelloos. Doodstraf is enigste oplossing.
Die wrede aksies en optredes kan alles toegeskryf word aan die ANC se beleid van afgeskeepte gemeenskappe, swak grens en immigrasiebeheer, patetiese opvoedingstelsel, geen plan vir privatisering en werkskepping asook swak bestuur en korrupsie. Nou plunder die benadeeldes agv ANC beleid alles

Tiger ·

Mense in die algemeen leef te gerus in die’ land.Of dit nou in die dorp,op ‘n hoewe of op ‘n plaas is.Die aantal aanvalle is ‘n duidelike bewys hiervan.Diefwering hou nie ‘n krimineel uit nie net ‘n eerlike mens.Self Beveiliging moet eenvoudig opgeskerp word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.