Bende van 15 slaan op geldwa toe

Die geldwa (Foto: Yusuf Abramjee, Twitter)

Die polisie is op die spoor van ʼn bende van minstens 15 gewapende rowers ná ʼn transitorooftog Dinsdagoggend in Pretoria.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die rooftog het omstreeks 07:50 in Paul Krugerstraat in die Wonderboom-gebied plaasgevind.

“Die rowers het met ʼn Mercedes-Benz-motor teen ʼn GS4-geldwa vasgejaag. Die wa het tot stilstand gekom,” sê Masondo.

“Die verdagtes het die drie veiligheidswagte, wat in die wa was, uit die voertuig gepluk en hul vuurwapens afgevat.”

Die rowers het die geldwa met plofstof oopgeskiet en die motor wat gebruik is om teen die geldwa vas te jaag, is ook erg beskadig.

“Ander veiligheidswagte het intussen op die toneel opgedaag waarna ʼn skietgeveg tussen hulle en die rowers uitgebreek het. Die rowers het in ʼn onbekende aantal voertuie van die toneel gevlug.”

Die polisie het ná die voorval ʼn grys BMW in ʼn nabygeleë erf aangetref en daarop beslag gelê.

“Daar word geglo dat hierdie voertuig as ʼn wegkommotor gebruik is. Die voertuig is vroeër vanjaar in Lyttleton gekaap.”

Die ondersoek gaan intussen voort om te bepaal of daar wel geld tydens die rooftog gebuit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.