ʼn Bende gewapende rowers wat glo niksvermoedende slagoffers op Facebook se markplek geteiken het, is in hegtenis geneem ná ʼn skietery tussen bendelede en die polisielede in die ooste van Pretoria.
Maroela Media het vroeër berig oor ’n 30-jarige man van Pretoria wat na ’n huis in ’n veiligheidskompleks gelok, vasgebind en beroof is nadat hy ’n selfoon op Facebook Marketplace geadverteer het. Die verdagtes wat die polisie Dinsdag vasgetrek het, se modus operandi stem ooreen met dié wat die man destyds aan Maroela Media beskryf het.
Lede van die polisie in Lyttelton en Brooklyn, sowel as die polisie se blitspatrollie het Dinsdag gereageer op ʼn wenk oor waar dié verdagtes hulle bevind.
“ʼn Taktiese plan is bedink en uitgevoer. Toe polisielede die eiendom waar die verdagtes skuil betree en hul teenwoordigheid bekend maak, het een van die verdagtes ʼn vuurwapen op die polisie gerig,” het kapt. Dave Miller, woordvoerder van die polisie in Pretoria, gesê. “Daar het vlugtig ʼn skietery tussen lede van die polisie en verdagtes uitgebreek, waarna verdagtes in hegtenis geneem is.”
Tydens die skietery het die polisie agtergekom dat twee lede van die publiek in die huis aangehou word. “Nie een van die aangehoudenes of lede van die polisie is tydens die skietery beseer nie,” het Miller gesê.
ʼn Ongelisensieerde vuurwapen en drie magasyne vol ammunisie, twee messe en gesteelde eiendom is op die perseel gevind.
Volgens Miller het die verdagtes hul slagoffers op Facebook Marketplace genader onder die voorwendsel dat hulle belangstel in die items wat deur die slagoffer as te koop aangebied word. “Die verdagtes het ʼn eiendom op Airbnb gehuur wat hulle dan voorgedoen het as hul familietuiste en dit selfs toegerus met kinders se klere en speelgoed.
“Die slagoffer word gewoonlik begroet deur ʼn vrou wat hulle die huis in begelei, waar twee gewapende mans hulle gewoonlik inwag,” het Miller verduidelik.
Die man oor wie Maroela Media berig het, is ook deur ʼn vrou as potensiële koper by ʼn huis ontmoet, en later deur twee gewapende mans oorval nadat hy sy selfoon op Facebook Marketplace te koop aangebied het. Dit het ook later geblyk dié huis is ʼn Airbnb wat vir die doel van die misdaad gehuur is.
“Die polisie is tans bewus van ten minste ses gevalle waarmee die verdagtes verbind kan word en is oortuig daarvan dat selfs meer sake hierby gevoeg sal word,” het Miller gesê.
Die verdagtes, ʼn vrou en twee mans, sal eersdaags in die hof verskyn op aanklag van ontvoering, roof, besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, besit van gevaarlike wapens, die rig van ʼn vuurwapen en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Hierdie modus klink bekend. Hierdie diewe het dit op Facebook gesien. Presies dieselfde. Mense word gevra om geld in n boks te stuur na huise wat uitgehuur word as Airnb huis. Iemand wag die afleweraar daar in en ontvang die boks en die geld verdwyn net.
Aan die ander kant is die kopers net so naief. FB se soveel kry om liewer potensiele koper in die openbaar en naby n polisie stasie te ontmoet en nooit by hul huise of by afgelee plekke nie. Ook as die deal te waar is is beslis n lokval.
As mense net dieselfde hoeveelheid kreatiwiteit in vooruitgang as misdaad wou sit, sou die wêreld vir almal ‘n beter plek wees.