Bendegeweld: Verdagtes vas in dubbelmoord

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Albert Fritz, minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, verwelkom die inhegtenisneming van twee verdagtes vir die moord op ʼn man en ʼn vrou in Vrygrond in Kaapstad. Die twee verdagtes is die afgelope naweek deur die teenbende-eenheid in Muizenberg in die Wes-Kaap vasgetrek.

Lede van dié eenheid het Sondag inligting ontvang van ʼn 38-jarige man en 45-jarige vrou wat Saterdag omstreeks 12:00 in Vuyostraat in Vrygrond doodgeskiet is.

Fritz sê die teenbende-eenheid was besig om ʼn huis in Disastraat in Capricorn in Kaapstad te deursoek toe hulle die eerste verdagte, ʼn 25-jarige man, in hegtenis geneem het vir die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie asook vir die dubbelmoord.

Die tweede verdagte, ʼn 31-jarige man, is daarna ook vir die dubbelmoord in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op ʼn Uzi-pistool, waarvan die reeksnommer verwyder is, een magasyn en 62 patrone.

Die twee verdagtes sal binnekort in die Muizenberg-landdroshof verskyn.

Fritz sê bendegeweld het aansienlik begin toeneem toe die land verlede week na vlak 3 van algehele afsondering beweeg het.

Fritz sê hy veroordeel bendegeweld en versoek die polisie om in gevalle van dié soort geweld oortreders spoedig vas te trek. Hy het ook die inhegtenisneming van die twee verdagtes deur die teenbende-eenheid verwelkom. Hy beskou dit as ʼn positiewe teken dat die polisie bendegeweld as ’n ernstige saak beskou.

“Ondanks ons reaksie op die Covid-19-pandemie bly die Wes-Kaapse regering daartoe verbind om sy gemeenskappe veilig ten tyde van die afsonderingstydperk te hou. Met die Wes-Kaapse veiligheidsplan beoog ons steeds om die moordsyfer oor die volgende tien jaar te halveer. As sodanig sal my departement voortgaan om met polisie, buurtwagte en alle ander belanghebbendes saam te werk om die skade wat deur bendes aangerig word, te bestry, ” sê Fritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Twee manne???? Die Bendegeweld gaan voort en dit is nie van vandag af nie. Die Bendes regeer al vir Dekades die gebied en blyk onoorwonne te wees. Selfs met ontplooing van Weermag was bitter min sukses behaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.