‘Bendelede’ bestorm polisiestasie

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Groep mense het Maandagoggend die polisiestasie in die Jouberton-nedersetting in Klerksdorp bestorm. Hierdie groep, wat na bewering lede van ʼn plaaslike bende is, beskuldig polisiebeamptes daarvan dat hulle met lede van ʼn ander bende konkel.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê die groep het omstreeks 10:00 die polisiestasie se gemeenskapsdienssentrum binnegestorm en aangedring om met die stasiebevelvoerder te praat.

“Volgens voorlopige inligting het die betrokke bendelede gepoog om die polisie, wat met R5-gewere gewapen was, te ontwapen. Lede van die taktiese reaksiespan het egter ingegryp en die groep uit die stasie gejaag,” sê Myburgh.

Die situasie by die stasie is tans onder beheer en die polisie ondersoek die voorval.

Die motief agter die aanval is nog nie bekend nie. Die polisie vermoed egter dit kan verband hou met ʼn paar voorvalle van brandstigting wat die afgelope week in die nedersetting plaasgevind het. Verskeie huise en voertuie is sedert verlede Saterdag in die nedersetting aan die brand gesteek. Die laaste voorval is gister (Sondag) in Uitbreiding 12 aangemeld.

Sake van kwaadwillige saakbeskadiging, poging tot moord en brandstigting is by die polisie aanhangig gemaak.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het die voorval ten sterkste veroordeel. Hy het ook gewaarsku dat dade van wetteloosheid en die ondermyning van die gesag van die staat nie geduld sal word nie.

“Klagtes moet te alle tye op ʼn aanvaarbare manier en binne die omvang van die wet geopper word. Die polisie sal nie huiwer om diegene wat vir sulke gedrag verantwoordelik is, op te spoor nie,” sê Kwena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

richard ·

Ek glo nie hulle het weggehardloop nie, want hulle, is deur die taktiese reaksie span gehelp.
Wat kommerwekkend is dat sulke goed gebeur, en die vraag is, is dit na aanleiding van malema se dreigement teen die polisie, as dit is, moet hulle ASB meer waaksaam wees.

Willem ·

Cele het mos gesê polisie moet hulself verdedig. Hoekom is daai bende lede nie gevang nie

pestilensie ·

Hier die is heel waarskynlik weer n geval waar die wet net vir een groep geld , en as die ander ongelukkig raak , word hulle gearresteer . Alla Senekal

henndrik ·

Die ANC bestuur kan dan doen wat hulle wil sonder gevolge so hulle reken seker hulle mag ook – dit is wat gebeur as wetstoepassing nie behoorlik en regverdig toegepas word nie

Phillip ·

Doen maar net wat EFF doen niks kom hulle oor nie so dis mos hoe dit gedoen word in die nuwe SA

Hennie J ·

Anargie, moord roof, intimidasie………die gevolge van n gestorwe wetstoepassingstelsel en n gekaapte strafregstelsel. Staan op, beskerm jouself en wees voorbereid!!!!

Karina ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Al wat ek hieroor te sê het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.