Bendelede gevonnis oor slagting in Khayelitsha

Die hooggeregshof in Kaapstad. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Twee bendelede, Gcinithemba Beja en Fundile Maseti, is in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir hul betrokkenheid in sake van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in Khayelitsha.

Ao. Joseph Swartbooi, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes is op Sondag, 8 Maart 2020, ontbied na ʼn misdaadtoneel in Site B in Khayelitsha.

“Sewe mense het verskeie skietwonde opgedoen. Paramedici het hulle op die toneel dood verklaar. Drie slagoffers, insluitend ʼn sesjarige kind, is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.”

Ao. Zinele Ngqola, ondersoekbeampte, het ʼn verklaring bekom van ʼn onafhanklike ooggetuie, wat die verdagtes op die toneel kon plaas. “Die getuie se deursettingsvermoë het tot die inhegtenisneming gelei van twee mans, onderskeidelik 29 en 45 jaar oud. Weens die sensitiewe aard van die ondersoek, is een van die getuies in ʼn ooggetuiebeskermingsprogram geplaas.”

Swartbooi sê danksy Ngqola se “noukeurige ondersoek” kon ʼn goedvoorbereide saak in die hof voorgelê word.

“Verskeie getuies is geroep en die ondersoekbeampte het ook ʼn veeleisende aanslag beleef deur die verdediging. Ngqola het egter die feite aan die hof voorgehou en was ʼn geloofwaardige getuie.”

Die twee mans is skuldig bevind op die aanklagte en is Donderdag elkeen 14 lewenslange vonnisse opgelê.

Lt.genl. Thembisile Patekile, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekbeampte geloof vir sy uitmuntende werk en die Nasionale Vervolgingsgesag wat seker gemaak het die twee beskuldigdes ontvang die maksimum vonnisse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Die vonnisse sal seker gelyklopend uitgedien word wat beteken hulle kan na 15 jaar aansoek doen vir parool.As die vonnisse nie gelyklopend uigedien word nie is dit goeie vonnisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.