Bendelede sit lank oor moord en ander misdade

Foto verskaf deur SAPD Wes-Kaap

Twee Hard Living-bendelede van Manenberg in Kaapstad is in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis op verskeie aanklagte, waaronder twee moorde in 2017.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê Donovan Manno (26) is tot 24 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die twee moorde. Hy is tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir die oortreding van die Wet op Georganiseerde misdaad, ses jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen, ses jaar vir die besit van ʼn verbode vuurwapen en ses jaar vir die besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en hy sal effektief 24 jaar agter tralies spandeer.

Moegamat Moesfiek Fillis (16) is tot 13 jaar tronkstraf gevonnis wat drie jaar insluit vir die oortreding van die Wet op Georganiseerde Misdaad. “Hy was minderjarig toe hy dié gruwelike misdade gepleeg het.”

Albei beskuldigdes was lede van die Hard Living-bende.

Die polisie in Manenberg het die sake ondersoek van misdade wat tussen 2016 en 2017 gepleeg is.

“Beamptes in die Manenberg-polisiëringsdistrik was op 21 November 2016 om 09:00 besig met patrollie in Red River Walk. Hulle het twee verdagte persone opgemerk wat in die rigting van Red River Primary School hardloop. Hulle het gesien hoe die twee persone die skool se terrein betree en toe die verdagtes die polisiebeamptes opmerk, het hulle ʼn vuurwapen laat val,” het Rwexana verduidelik. “Polisiebeamptes het beslag gelê op ʼn 9 mm Norinco-pistool waarvan die reeksnommer verwyder is.”

Op 17 Oktober 2017 is die 26-jarige Yusree Marais doodgeskiet tydens ʼn bendeskietery in Grieta Court. “Yusree het by die hek van ʼn huis in Grieta Court gestaan toe Moesfiek Fillis en Donovan Manno na hom toe gestap en verskeie skote op hom gevuur het. Hy is drie keer in die kop getref. Hy is op die toneel dood.”

Manenberg-polisiebeamptes het onverpoosd gewerk en ʼn verklaring bekom wat Fillis en Manno as die skieters impliseer.

“Moegamat Cassiem O’Neil (26), ʼn lid van die Jester-bende, het op 18 Oktober 2017 om 15:20 in Red Riverstraat gesit. Volgens ooggetuies het twee mans na hom toe gestap en sonder enige waarskuwing verskeie skote op hom gevuur. Die 26-jarige man is koelbloedig doodgeskiet en die twee mans het van die toneel gevlug. ʼn Onskuldige omstander is deur skrapnel getref en het ʼn ernstige wond aan haar regterbeen opgedoen. Fillis en Manno is weer as die oortreders uitgeken.”

Manno is kort ná die skietery in Thameslaan aangekeer. Die tiener is ook kort daarna aangekeer. Hulle was in aanhouding tot hulle gevonnis is. “Hul aansoek om borgtog is teengestaan op grond van hul gewetenloosheid en die skrikbewind wat hulle gevoer het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Pollsmoor is nie ‘n lekker plek, maar die twee omdat hulle bende lede is en nogtans vermoor het. sal gesien word as helde en beskerm word. Soeveel haat net omdat iemand iewat verskil van jou, en aan ‘n ander groep behoort. Die een ou sal weer die blou lig sien waaneer hy 50 is.

ZET ·

Die twee kaartmannetjies kry n ligter straf vir moorde as wat die Dros verkragter
gekry het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.