Bendelede skuldig aan driedubbele moord

(Argieffoto: Unsplash)

Vier bendelede wat drie van hul slagoffers fyn dopgehou en toe op dieselfde dag vermoor het, is in die hooggeregshof op Port Elizabeth elk skuldig bevind op minstens een aanklag van moord elk.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Jermaine Mitchell (33), Glynn Simione Carelson (33), Wendell Jade Peterson (33) en Robin Edgar Taylor (24) is skuldig bevind aan moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook ʼn oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.

Carelson, Peterson en Taylor is ook skuldig bevind op nog twee aanklagte van moord.

Peterson was die baasbrein van die Dustlifes-misdaadbende, terwyl Mitchell, Carelson, Peterson en Taylor lede van die bende was.

Op 14 September 2015 het Carelson en Peterson byeengekom om die moorde op Theodore Tupac Matthews (26), Rajen Naidoo (52) en Jermaine Jabilo Essau (25) te beplan.

Op dieselfde dag het Mitchell vir Carelson van die moordwapen voorsien. Peterson het Matthews se bewegings intussen fyn dopgehou en Taylor en Matthews deurlopend op die hoogte gehou van waar hy hom bevind.

Hy het hulle laat weet dat Matthews in ʼn taxi is en toe dié bussie op die hoek van Durban- en Cottrellweg stilhou, het Carelson en Taylor toegeslaan, sê Ngcakani.

Hulle het verskeie skote op hom geskiet en Matthews het gesterf.

Later dieselfde dag het die moordtog voortgeduur. Mitchell, Carelson en Peterson het na Naidoo gaan soek en nadat hulle hom in Newton Park in Port Elizabeth opgespoor het, het hulle hom daar doodgeskiet.

Steeds was hulle nie klaar nie.

“Die moordtog vir die dag het omstreeks 18:30 geëindig toe hulle na Gelvendale [in Port Elizabeth] is waar hulle Essau doodgeskiet het.”

Volgens Ngcakani was die motief vir die moord op Matthews en Essau bendeverwant. Peterson en sy makkers het Naidoo vermoor om die R30 000 wat ʼn ander misdaadbende vir sy dood aangebied het, te eis.

Adv. Indra Goberdan, adjunkdirekteur van openbare vervolging, het die skuldigbevinding verwelkom en gesê die onderskepping van selfooninligting is suksesvol in die saak gebruik.

“Dit het heelwat samewerking tussen misdaadintelligensie, die polisie en die vervolgingspan geverg om ʼn web te weef van hoe die bendes in die skadu’s onder ʼn ongeskrewe reël van stilswye bedryf word,” sê Goberdan.

“Die spanpoging uit alle oorde was ongelooflik. Die vervolgingspan is met die dood gedreig, maar het steeds voortgegaan.”

Goberdan het die aanklaers geloof wat ten spyte van die doodsdreigemente aan hulself en hul gesinne gemaak is, steeds rotsvas gestaan het.

Die vier word later gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg! Hierdie lae gewetenlose tipe landsburgers hoort nie in ons land nie

Tipper ·

Met sy geboorte is hy stap 1,darem nog n landsburger, dan word hy stap 2 en dan word hy die laagste graad n gamster,dan kan jy met hom niks uitvoer nie,voor tanne is ook uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.