Bendeleier en Kie se aansoek om borgtog afgekeur

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die nuus verwelkom dat ʼn bendeleier, sy handlanger en ʼn polisiebeampte, se aansoeke om borgtog afgekeur is. Die drie staan tereg op aanklag van die moord op die bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, lt.kol. Charl Kinnear, en ʼn rits ander aanklagte.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Nafiz Modack, Jacques Cronje en Ashley Deon Tabisher se aansoeke om borgtog verwerp, gesê hulle is ʼn gevaar vir die samelewing en dat hulle in ʼn korrektiewe fasiliteit moet bly hangende die uitslag van hul hofsake, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG.

Die drie se vorige poging om op borgtog vrygelaat te word, is ook in die wiele gery toe die NVG dit suksesvol by die Blue Downs-landdroshof teengestaan het.

Hulle is deel van ʼn groep van 15 beskuldigdes wat tereg staan op 3 121 aanklagte.

Regter Mark Sher het bepaal dat Modack nie buitengewone omstandighede kon bewys dat hy vrygelaat moet word nie. “Gegewe die bewyse wat aan die hof voorgehou is, is die waarskynlikheid groot dat die aansoekers weer een of meer misdade sal pleeg en dat hul vrylating op borgtog die funksie van die strafregstelsel sal benadeel en die integriteit van die borgtogstelsel sal bevraagteken.”

Argieffoto van Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

Die feit dat Tabisher aangevoer het dat sy borgtog toegestaan moet word omdat ander polisiebeamptes, wat hulself aan korrupsie skuldig gemaak het op borgtog vrygelaat is, is misplaas en hy versuim om die konteks in ag te neem waarbinne sy korrupsie plaasgevind het, het Sher bygevoeg.

“Korrupte aktiwiteit waarby polisiebeamptes betrek word is uiters ernstig, skend die hart van ons stelsel van wet en orde en as dit tydens ʼn hofsaak bewys kan word, sal dit ʼn swaar vonnis beteken. Ek is ook van mening dat die belang van geregtigheid nie Tabisher se vrylating om borgtog ondersteun nie.”

Sher sê met Tabisher se verbintenisse aan lede van die polisiediens sal hy moontlik ook poog om in te meng met die ondersoek of poog om inligting oor die ondersoek te bekom sodat hy en Modack dit kan gebruik.

Modack het 15 hangende sake in ander howe vir misdade wat in Kaapstad en Gauteng gepleeg is.

Cronje het sewe hangende sake wat 13 aanklagte beslaan, hoofsaaklik uitbuiting en intimidasie asook aanranding, buiten die aanklagte in die betrokke saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Althes ·

Ek bid en glo dat geregtigheid sal seevier. Sy familie het genoeg deurgemaak.

Nico ·

Ek stem saam met jou geregtigheid sal seevier, ‘n onskuldige lewe is geneem en die familie is verwoes.

FM ·

Ai tog.
So jammer dat daardie tronksleutel nog nie in die see gegooi is nie.

Danie ·

Ek merk dat die saak ook n stille dood gaan sterf.As die staat n goeie saak het begin en maak klaar tree streng op en pas die wette toe.Getuies gaan verdwyn of alreeds dood.

Drikus ·

Maak nie saak hoe lank tronkstraf die skobbejakke kry nie, na 15 jaar is hulle seker uit (dit is nou as iemand nie kamtig dodelik siek word nie). Ek kan nie sien hoe ons hierdie golf van moordadigheid gaan stop sonder die doodstraf nie. Moordenaars moet op die stadsplein opgehang word; ek dink binne 6 maande gaan die moordsyfer ‘n fraksie wees van wat dit vantevore was. Iemand moet tog net nie vir my sê dit is ongehoord in ‘n beskaafde samelewing nie, ons leef NIE in ‘n beskaafde samelewing nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.