Bendelid gevonnis ná metrobeampte se moord

Argieffoto

ʼn Lid van die Dixie Boys-bende is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis in verband met die moord op Ben Johannes Koopman, ʼn metropolisiebeampte van Kaapstad.

Regter Daniel Thulare het Christopher Jantjies (29) tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Koopman was in volle uniform toe hy op 15 Februarie 2016 voor sy huis in Eersterivier en voor sy 18-jarige seun doodgeskiet is.

Jantjies is ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van roof met verswarende omstandighede, 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Thulare het beslis dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word en Jantjies is dus effektief tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Volgens hofdokumente het Koopman die middag omstreeks 12:00 by sy huis aangekom. Hy het met ʼn amptelike voertuig gery en het sy uniform aangehad. Hy het middagete in die huis geniet en daarna saam met sy 18-jarige seun, Quilen, na buite gestap waar Quilen sy pa wou groet voor hy ry.

Jantjies en ʼn onbekende man het in hierdie stadium by die erf opgedaag en Koopman gegryp voor hy die voertuig se deur kon oopmaak. Jantjies het Koopman in die bors geskiet en probeer om Koopman se vuurwapen uit sy pistoolhouer te gryp. Hy het Koopman daarna in die gesig en in die maag geskop en gesê: “Ek het gesê ek gaan jou kry.”

Koopman was ʼn staatsgetuie oor misdade wat deur die Dixie Boys-bende gepleeg is.

Jantjies het daarna met Koopman se dienspistool en tweerigtingradio in ʼn wegkomvoertuig gevlug.

Quilen het Jantjies herken en geweet hy is ʼn lid van die Dixie Boys-bende. Quilen het egter by die skool gehoor dat die leier van die Dixie Boys wou weet of hy sy pa se moordenaar sou kon uitken, en die familie het besluit dat Quilen eerder die gebied moet verlaat vir sy eie veiligheid. Hy is daarna onder getuiebeskerming geplaas.

Een van Koopman se buurmanne, Danwill de Klerk, ʼn lid van die 26s-bende, was ook ʼn ooggetuie. Hy het Jantjies ook herken, omdat hy vroeër saam met hom tronkstraf uitgedien het. De Klerk is twee dae ná die voorval deur die polisie ondervra. Hy het Koopman goed geken en hom “Oom Ben” genoem. Polisiebeamptes het hom ondervra, omdat hy gesien kon word op beeldmateriaal van die voorval. Hy was egter skrikkerig om inligting vir die polisie te gee, uit vrees vir sy lewe en omdat hy nie geweet het watter polisiebeamptes hy kon vertrou nie. Hy het geweet die bende sou hom ook vermoor as hy sou getuig.

De Klerk se gewete het hom egter gepla en hy het later met die korrekte inligting na vore gekom, op voorwaarde dat hy en sy gesin ook onder getuiebeskerming geplaas sou word en dat sy naam nie bekend gemaak sou word alvorens die hofsaak verby is nie.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van Boots Tavern wys ook hoe die twee mans Koopman aangeval het. Jantjies het egter skuld ontken op alle aanklagte.

Adv. Christiaan de Jongh het Koopman se vrou Woensdag versoek om te getuig ter verswaring van vonnisoplegging. Jantjies het egter daarna opgestaan en sy regsverteenwoordiger gevra om vir mev. Koopman te sê hy het nooit haar man doodgeskiet nie.

De Jongh en adv. Ronelle Stone het aangevoer daar moet baie goeie redes wees waarom die hof sou afwyk van die voorgeskrewe minimum vonnisse. “Dit was moord met voorbedagte rade. Hulle het vir hom gewag om huis toe te kom tydens middagete. Hulle het hom koelbloedig doodgeskiet. Die feit dat sy dienspistool gesteel is, dien ook as verswarende omstandighede. Meeste polisiebeamptes wat vermoor word, se dienspistole word gesteel en talle word gebruik om nog misdade mee te pleeg. Ons weet nog steeds nie wat van hierdie vuurwapen geword het nie.”

De Jongh het bygevoeg Jantjies het nooit getuig nie. “Hy het nie aan die hof verduidelik wat gebeur het nie. Hy het nie die hof vertrou of enige berou getoon nie. ʼn Persoon wat nie berou toon nie, is ʼn gevaar vir die samelewing, aangesien hy nie sy fout kan erken nie. Dit lyk nie of hy gerehabiliteer sal word nie, aangesien hy nie dink hy het iets verkeerd gedoen nie.”

Jantjies is ook vantevore skuldig bevind met opgeskorte vonnisse. “En tog het hy steeds misdade gepleeg, insluitend om ʼn polisiebeampte dood te skiet. Hy het geen respek vir die reg nie. Hy het geen gewete nie.”

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die vonnis verwelkom en gesê hy hoop dit stuur ʼn duidelike boodskap dat die moord op ʼn polisiebeampte gelykstaande is aan ʼn aanval op die staat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.