Bendelid skuldig bevind aan metrobeampte se moord

Argieffoto

Christopher Jantjies (29) is Dinsdag in die Kaapstadse hooggeregshof gevonnis op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besig van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke het in ʼn verklaring verduidelik Jantjies is op 30 September 2016 in hegtenis geneem ná ʼn intensiewe ondersoek oor die moord van Ben Koopman, ʼn metropolisiebeampte van Khayelitsha.

Koopman is op 15 Februarie 2016 voor sy huis in Eersterivier doodgeskiet.

Volgens hofdokumente het Koopman die middag omstreeks 12:00 by sy huis aangekom. Hy het met ʼn amptelike voertuig gery en het sy uniform aangehad. Hy het middagete in die huis geniet en daarna saam met sy 18-jarige seun, Quilen, na buite gestap waar Quilen sy pa wou groet voor hy ry.

Jantjies en ʼn onbekende man het in hierdie stadium by die erf opgedaag en Koopman gegryp voor hy die voertuig se deur kon oopmaak.

Jantjies het probeer om Koopman se vuurwapen uit sy pistoolhouer te gryp en die onbekende man het weggehardloop. Jantjies het Koopman in die gesig en in die maag geskop en gesê: “Ek het gesê ek gaan jou kry.”

Hy het Koopman geskiet en daarna met sy dienspistool en tweerigtingradio gevlug.

Quilen het Jantjies herken en geweet hy is ʼn lid van die Dixie Boys-bende. Quilen het egter by die skool gehoor dat die leier van die Dixie Boys wou weet of hy sy pa se moordenaar sou kon uitken, en die familie het besluit dat Quilen eerder die gebied moet verlaat vir sy eie veiligheid. Hy is daarna onder getuiebeskerming geplaas.

Een van Koopman se buurmanne was ook ʼn ooggetuie, en is twee dae ná die voorval deur die polisie ondervra. Hy het Koopman goed geken en hom “Oom Ben” genoem. Polisiebeamptes het hom ondervra, omdat hy gesien kon word op beeldmateriaal van die voorval. Hy was egter skrikkerig om inligting vir die polisie te gee, uit vrees vir sy lewe en omdat hy nie geweet het watter polisiebeamptes hy kon vertrou nie. Hy het geweet die bende sou hom ook vermoor as hy sou getuig.

Die buurman se gewete het hom egter gepla en hy het later met die korrekte inligting na vore gekom, op voorwaarde dat hy en sy gesin ook onder getuiebeskerming geplaas sou word en dat sy naam nie bekend gemaak sou word alvorens die hofsaak verby is nie.

Die Valke het gesê die Eersteriviergemeenskap en die Kaapstadse metropolisie was instrumenteel om seker te maak dat Jantjies suksesvol vervolg kon word.

Jantjies sal na verwagting op 23 Mei weer in die hof verskyn vir vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.