Bendelid gevonnis vir moord op 16-jarige

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Wes-Kaapse bendelid is dié week tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn 16-jarige seun van dié provinsie.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die 16-jarige was glo ook ʼn lid van ʼn bende toe hy in September verlede jaar vermoor is.

Die 16-jarige se liggaam is verlede jaar in Manenberg enkele meters weg van sy huis deur polisielede aangetref. Hy het talle skietwonde aan sy bolyf gehad.

“Die wrede moord is uitgevoer in die hartjie van die Manenberg-gemeenskap waar dit moeilik is om ʼn getuie te kry of om bewyse bymekaar te maak,” sê Van Wyk.

Hy sê die polisie het die ondersoek sonder ʼn enkele leidraad begin. Volgens hom moes die polisie die omgewing deeglik ondersoek en die bewyse “stukkie vir stukkie” bymekaarbring voordat Moegamat Farouk Oliver, ʼn lid van die Hard Living-bende, ses weke ná die moord in hegtenis geneem is.

Oliver is 25 jaar tronkstraf vir moord opgelê, 10 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen, twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie, 12 jaar omdat hy ʼn medepligtige was, vyf jaar vir sy verbintenis met die bende en nóg vyf jaar omdat hy aktief ʼn rol in die bende gespeel het. Die vonnisse is gelyklopend.

Genl.maj. Hendrik Burger, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê dié inhegtenisnemings is die gevolg van volgehoue spanwerk.

“Hierdie speurders bring hoop vir die gemeenskap dat bendegeweld wél ʼn nekslag toegedien kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

As ek die beskrywing reg verstaan is dit wat 25 jaar genoem word, eintlik 12 jaar.

GM ·

Dit gaan seker nou onsensitief klink, maar die vermoorde bendelid sou verskeie onskuldige lewens geneem het as syne nie geneem is nie. Dit maak nie die moord reg nie, maar mens maak keuses in die lewe. As dit jou keuse is om mense vir die ‘fun’ te gaan moor net sodat jy as deel van ‘n bende gesien kan word, dan moet jy vat wat na jou kant toe kom. En hoekom is vonnisse altyd gelyklopend? Die polisie werk hard om bewyse bymekaar te skraap, en dan kom die howe/regstelsel.

Jacques ·

Ek is nie snaaks nie , maar ek kry die gevoel dat mense misdaad doen of moord pleeg net om tronk toe te gaan en nie die alledaagse storms in die gesig te staar nie . Ek blameer die regering daarvoor , want hulle het die tronke in hotele verander . Iemand wat vandag in die tornk op eindig het geen probleme wat skuld en lewens uitdagings aan betref nie , hy word efektief n las vir die belasting betaler van sowat R 3,500.00 per dag . Gaan maak die somme . Hulle het mos mense regte , maar wat van die persoon wat leed aan gedoen is se mense regte ????

OumaLien ·

My gevoel is dat as die vonnise nie gelyklopend uitgedien moet word nie, dit ‘n groter afskrikmiddel vir kriminele sal wees

Wilma ·

Die Regering voel vere vi die slagoffers ongeag velkleur. Daarom het net kriminele menseregte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.