Quinton Cordom is Maandag tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op ʼn verkeersbeampte en ʼn vyandige bendelid.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Cordom (27) is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moorde, ses jaar vir oortredings wat met bendegeweld verband hou, 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en ʼn verdere 18 jaar tronkstraf op aanklagte van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Cordom is skuldig bevind aan die moorde op Wesley Woodman (35), ʼn verkeersbeampte, en Said Ariefdien. Hulle is in April verlede jaar in Lavender Hill doodgeskiet. Ntabazalila sê Cordom was ʼn lid van de Luciano Boys-bende terwyl Ariefdien ʼn lid was van die Junky Funky Kids-bende.