‘Bendelid’ sterf tydens skietgeveg met polisie

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

ʼn Bendelid wat vermoedelik betrokke was by die moord op ʼn polisiebeampte is Saterdagmiddag tydens ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse polisie, het gesê die voorval het by die berugte KwaMashu-wooneenhede vir mans noord van Durban plaasgevind. “Die polisie het inligting ontvang dat ʼn groep mans by die wooneenhede in die besit van ongelisensieerde vuurwapens is,” het Zwane gesê.

“Die blitspatrollie, K9-eenheid en plaaslike polisietaakspan het op ʼn eenheid toegesak met 15 verdagtes binne. Toe die polisie die eenheid binnekom, het die verdagtes probeer vlug terwyl een van die mans op die polisie losgebrand het. Die polisiebeamptes het teruggeskiet en die verdagte is noodlottig gewond.”

Volgens Zwane is ʼn 9 mm-pistool in die oorledene se besit gevind. ʼn Tweede verdagte wat ook ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy besit gehad het, is in hegtenis geneem. “Albei verdagtes was vermoedelik deel van ʼn moord op ʼn polisiebeampte in KwaMashu en is na bewering deel van ʼn bende wat op die vlug geslaan het ná ʼn skietery in Greytown verlede maand,” het hy gesê.

Die 23-jarige verdagte sal Maandag in die Ntuzuma-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.