Bendelid swaar gestraf vir omstander se moord

Granwill Bailey in die hof. (Foto: NVG)

’n Oos-Kaapse bendelid is in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot effektief 33 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op ’n onskuldige omstander wat verlede jaar gedurende ’n skietery in die kruisvuur beland het.

Mirlene Natasha Mileen Wilson is in Januarie verlede jaar in die kop getref toe Granwill Bailey (25) ’n vuurwapen tydens ’n argument met ’n ander persoon uitgepluk en skote afgevuur het.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Bailey en LeRoy Scholtz het op 5 Januarie verlede jaar ’n uitval in Arcadia gehad nadat Bailey Scholtz daarvan beskuldig het dat hy deel was van die kriminele bende wat sy vriend die vorige dag geskiet het.

Scholtz was ontsteld oor hierdie aantygings.

Scholtz het later daardie dag na Bailey in Arcadia gaan soek. Die twee het mekaar weer gekonfronteer en Bailey het ’n vuurwapen uitgepluk en skote op Scholtz afgevuur.

Wilson het in die kruisvuur beland en is op die toneel dood.

Bailey is vier dae later in hegtenis geneem.

Hy is intussen tot 17 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Wilson sowel as ’n verdere ses jaar tronkstraf vir poging tot moord, sewe jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Die aanklaer, adv. Liezel Landman, het gesê bendegeweld is buite beheer in Suid-Afrika. “Die aantal onskuldige mense wat doodgemaak word in bendeskietery neem drasties toe en ’n sterk boodskap moet gestuur word dat hierdie gedrag nie geduld sal word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Neee ons sal dit nie duld nie , ons moet julle net vang né

Cherokee ·

Dit sal slegs 33 jaar wees indien dit opeenvolgend uitgedien word.
Vonnisse wat uitgedeel word aan geweldsmisdadigers, is gewoonlik soos Edgars se ‘oorspronklike prys’ wat ‘n lyn deur getrek kry en vervang word met ‘n afslagprys.

Lian ·

Hoe lank gaan hy werklik sit ? Vyf jaar en dan vrygelaat word weens oorvol tronke ?

Nico ·

Nou gaan hy lekker leef in die regering se vyfster hotel met geen bekommernisse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.