Marcus Malgas (24) is in die Port Elizabeth-hooggeregshof skuldig bevind op ʼn aanklag van moord, sewe aanklagte van poging tot moord, twee aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en twee aanklagte van die onwettige besit van ammunisie.
Die aanklagte hou verband met verskeie misdaadvoorvalle in Helenvale tussen Oktober en Desember verlede jaar. Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê Malgas het die aand van 18 Oktober 2015 vir Enslin Russel (23) in ʼn straat in Helenvale trompop geloop en verskeie kere geskiet. Russel is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Op 3 November verlede jaar het Jonathan Davids (28) in Reginaldweg gery toe Malgas op die motor losgebrand het en ʼn omstander, Trevor Ruiters (30), gewond is. Later die dag was Davids weer in die motor saam met sy ma en vyf kinders, toe Malgas weer verskeie kere op die motor geskiet het. Davids is in die been gewond.
Malgas is uiteindelik op 15 Desember opgespoor en in hegtenis geneem, het Janse van Rensburg gesê. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis op ʼn aanklag van moord, asook ʼn bykomende 32 jaar tronkstraf opgelê vir die ander aanklagte teen hom.
Janse van Rensburg het gesê die SAPD-bestuur het die vonnis verwelkom en hul tevredenheid uitgespreek dat ʼn gevaarlike misdadiger nou agter tralies is.
“Veilig agter tralies” en daar gaan hy sy skrikbewind voortsit terwyl belasting betalers hom aan die gang hou. Lewenslank. Die wereld behoort verlos te word van hierdie vent en soortgelyke gevalle, hulle vra vir die doodstraf wat die enigste voorkomende maatreël is. Dis die enigste manier hoe onskuldig publiek op straat beveilig kan word deur hierdie mense wie ‘n lewenstyl soos Malgas het.
In die ou dae sou hierdie mannetjie gehang het. Maar nou gaan belastingbetalers vir hom omsien en dalk nog betaal dat hy hom in iets kan bekwaam in die gevangenis. Daarmee het ek ‘n groot probleem.