Bendelid vas oor beweerde Kinnear-moordwapen

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Ashley Williams, ’n bekende bendelid, ook bekend as Nokkels, het Maandag in die Goodwood-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn onder meer op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

News24 berig die betrokke vuurwapen waaruit die aanklag spruit is moontlik dié wat in die moord op lt.kol. Charl Kinnear, bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, in September verlede jaar gebruik is.

Die Valke wou dit egter nie bevestig nie.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het wel vroeër vandag gesê die vuurwapen en ammunisie wat in Williams se besit gevind is, is vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit in die uitvoer van misdade gebruik is.

Die Valke ondersoek die moord op Kinnear.

Volgens Mogale is Williams onlangs tydens ’n multidissiplinêre operasie in die Nyanga-polisiëringsgebied in hegtenis geneem.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê Williams word ook aangekla vir die besit van dwelms.

Hy sal na verwagting weer op 29 April in die hof verskyn wanneer hy waarskynlik aansoek om borgtog sal doen.

Maroela Media het vroeër berig Kinnear is in September verlede jaar koelbloedig buite sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Zane Kilian (39) word met die topspeurder se moord verbind.

Kilian is kort ná die moord in hegtenis geneem en word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg en die onregmatige onderskep van kommunikasie. Hy het glo maande lank Kinnear se selfoon nagespoor.

Kilian se borgtogaansoek sal na verwagting Donderdag weer in die hof aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

antieke antie ·

het die bende-lid moontlik hulp in die polisie….want ek glo daar is baie korrupte hoe koppe wat nie wou he Charl moes op hulle spoor kom nie

Dries ·

Hierdie jafel gaan nie borg kry nie. Hy gaan heel moontlik aan “”iets” beswyk in die tronk , dan is alles stil.

Casper ·

Antieke antie, dit is presies wat gebeur het.Hy was besig om 2 offisiere te ondersoek rakende ernstige aantuigings teen hulle.Dit is dus duidelik dat die bendelid of betrokke was of die wapen verskaf het.Een vir een sal hulle opgespoor word.Daar sit meer agter die moord as wat ons weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.