Bendelid vas vir moord, poging tot moord

(Argieffoto: Max Kleinen)

ʼn Lid van die Nice Time Bozzas-bende is in die Port Elizabeth-hooggeregshof skuldig bevind op verskeie aanklagte waaronder moord, drie aanklagte van poging tot moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Walter Williams (21) het die misdade in Desember 2018 in Helenvale, ʼn gebied wat die bende in daardie tyd oorheers het, gepleeg, het Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, gesê.

Williams het op 9 Desember 2018 ʼn 17-jarige genader wat ʼn ooggetuie was in ʼn saak waar een van Williams se medebendelede die beskuldigde was. Die tiener het saam met ʼn ander jong kind van ʼn winkel af gestap.

“Toe die tiener Williams en sy medepligtige sien, het hy die kind aangesê om in die winkel te bly, terwyl hy na ʼn oop veld gestap het. Williams het hom gevolg, ʼn vuurwapen uitgehaal en losgebrand. Die slagoffers het ongedeerd tot by die huis gevlug, maar twee onskuldige seuns wat in die omgewing was, is gewond. Hulle het gelukkig herstel,” het Ngcakani gesê.

Net ʼn dag later het Williams ook op Richard Marius Stuurman losgebrand waar dié saam met drie vriende gesit en kaart speel het. Hy is doodgeskiet.

Die polisie se eenheid teen bendegeweld het hom op 21 Januarie verlede jaar in hegtenis geneem.

Williams is ook skuldig bevind op twee klagte van die onwettige besit van ammunisie, dat hy ʼn bende se bedrywighede help bevorder het, asook dat hy bygedra het tot ʼn patroon van misdadige bendebedrywighede, het Ngcakani gesê.

Die hofverrigtinge is verdaag sodat ʼn rekord van Williams se vorige oortredings verkry kon word, asook om getuies voor te berei wat ter strafversagting en -verswaring gaan getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Waar kry die ouens hulle naam…..Nice Time Bozzas. Die ANC moet vir alle bendes in SA hulle eie tuisland skep. Kan ek voorstel Luthuli Huis, of LootFreely Huis. Maar wag dit gaan ongemaklik wees. Luthuli Huis is al klaar vol bendes en skelms!

Wondermaarnet ·

Dankie tog, want die mannetjie is al besig van ‘n baie jong ouderdom af. Gooi weg die sleutel.

Deon ·

Hof verdaag om sy vorige rekord te gaan soek!!!! Hoe onvoorbereid is die staat nie!!! Geen pille vir dit

Ansie ·

Wanneer gaan die ANC wakker word en bendes onwettig verklaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.