Bendeskietery duur voort in PE

Argieffoto

ʼn Negende persoon is Woensdag dood tydens ʼn skietery tussen bendes in Port Elizabeth wat reeds die afgelope maand lank voortduur.

Die 24-jarige man se afsterwe kom minder as 24 uur ná Yannivk Jacobs (30) Dinsdagaand dood is toe sy by haar voordeur by haar huis in Steenbokstraat in Gelvandale geskiet is.

Die man is in Standfordweg geskiet oorkant ʼn gebied wat deur plaaslike inwoners as “Die Gaat” bekend staan, die kern van Helenvale – berug vir dwelm- en bendebedrywighede.

Nog skote is afgevuur terwyl verslaggewers op die toneel was. Die polisie het versterkings ontbied en amptelike voertuie het op nóg ʼn skietvoorval reageer.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn donkerblou VW Golf met drie insittendes het na bewering in Standfordweg gery toe die motor naby Die Gaat onklaar geraak het. “Een van die persone het die motor verlaat, in ʼn taxi geklim en weggery terwyl die ander twee in die motor bly sit het. ʼn Goudkleure VW Golf het glo daar naby stilgehou en vyf persone het uitgeklim. Twee van die persone het die blou Golf genader en op die insittendes losgebrand.”

Die 24-jarige man is in die nek getref en hy is op die toneel dood verklaar. ʼn 22-jarige man is verskeie kere in sy bene geskiet. Hy is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die provinsiale bendeondersoek-eenheid ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord.

Maroela Media het vroeër berig Ruaan Willemse (8), Deacon van Rooyen (16) en Chadwin Calvert (17) is tydens ʼn skietery by ʼn huis in Capuletstraat oorlede. Keenan Louw (26), wat ook in die huis was, het later aan sy beserings beswyk. Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie.

ʼn Saak van aanranding is intussen by die Gelvandale-polisiestasie aanhangig gemaak toe ʼn verslaggewer van die African News Agency (ANA) na bewering deur ʼn polisiebeampte op die toneel van Woensdag se skietery hardhandig hanteer is. Sy was besig om beeldmateriaal te verfilm toe die beampte haar selfoon gegryp het. Sy het ʼn video van die beampte geskiet toe hy ʼn kamera van ʼn fotograaf van Die Burger, Lulama Zenzile, wou konfiskeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Geregtigheid ·

Lyk my dat SAPD onbevoeg is of bang is vir die bendes. Anargie is SA se voorland.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.