Benna Bok sê oor klagtes

benna bok

Benna Bok se kenteken. Foto: Facebook.

“Ek sal my saak met elke klant wat nog vir ʼn Benna Bok-produk wag, hanteer. Ek besef ek het ʼn verantwoordelikheid teenoor elke klant.”

Só sê Petro Botha, die eienaar van Benna Bok, ʼn aanlyn winkel wat handgemaakte leerprodukte verkoop, oor die storm wat woed om haar kop nadat talle ongelukkige klante hulle tot die media gewend het omdat hulle ná etlike maande nog nie hulle produkte van dié winkel ontvang het nie.

Die groep ongelukkige klante sê hulle het reeds vir die leerhandsakke en -skoene betaal en hulle navrae oor hoekom hulle nog nie die produkte ná die aanvanklike 30 dae afleweringstydperk ontvang het nie, is met standaardboodskappe per e-pos beantwoord of heeltemal geïgnoreer.

Sommige klante het ook gesê hulle moes Benna Bok met regstappe dreig om ʼn terugbetaling te ontvang vir bestellings wat nie gelewer is nie.

Botha meen egter die mediadekking wat haar aanlyn winkel tot dusver ontvang het, het haar onregverdig in ʼn slegte lig gestel.

“Ons weet ons is agter met bestellings. Ek het wel ʼn regte winkel en ek het ʼn lêer met vragbriewe van meer as 600 tevrede klante wat wel hulle produkte van Benna Bok ontvang het.”

Botha glo die hoofrede waarom haar onderneming stoei, is omdat Benna Bok sedert sy ontstaan in Maart met rasse skrede gegroei het.

“Ek het begin met R1 000 en vier personeellede. In Augustus het ʼn persoon, wat nie ʼn klant van Benna Bok is of ooit was nie, onder die skuilnaam Frank Vermeulen my onderneming begin beswadder en paniek onder my klante gesaai.”

Botha sê dit het veroorsaak dat ʼn groot getal klante hulle bestellings summier gekanselleer het voordat die afleweringstydperk verstryk het.

“Die persoon het aangevoer ek het nie ʼn ware onderneming nie en ook aangevoer ek en my man koop die handsakke by ander mense en sit net kentekens daarop.

“Ek verstaan as klante hierdie soort bewerings op sosiale media lees en ongelukkig is of selfs wonder of geld nie net gevat is nie, maar ek dink klante moet weet my onderneming is gesaboteer. Dit het ook ʼn invloed op my inkomste en my werkers gehad. Die koeël was daarna deur die kerk.”

Op Maroela Media se vraag of Benna Bok se werksprosedures verander het sedert die herrie losgebars het, het Botha gesê hulle het sedert die ontstaan van die onderneming elke maand nog masjinerie aangekoop en metodes uitgewerk om vervaardiging te verhoog. Sy het ook ekstra personeel aangestel om die onderneming se uitset te verhoog.

Botha kon Dinsdagmiddag ook nog nie aan Maroela Media bevestig hoeveel klante wag vir die produkte waarvoor hulle reeds betaal het, of is ongelukkig oor diens wat hulle by Benna Bok ontvang het nie.

“Ek is nou besig daarmee, maar ons het administratiewe personeel verloor en dit is hoekom ek nie bewus is hiervan nie. Wat ek wel kan bevestig, is dat ons in Oktobermaand reeds talle terugbetalings aan klante gedoen het, wat daarvoor gevra het.”

Botha erken haar produksiebeplanning het heeltemal deurmekaar geraak en sy is heeltemal oorweldig. “Ek kan jou vanmiddag verseker almal sal hulle terugbetalings of uitstaande produkte ontvang.”

Sy het gesê Benna Bok het die afleweringstydperk tot nege weke verleng sodat toekomstige klante nie benadeel word nie.

“Ek het van middel September tydelike werknemers aangestel om klante persoonlik te bel en dié wat nie toe geantwoord het nie, het e-posse van ons ontvang. Ek het ook ʼn video op Benna Bok se Facebook-blad geplaas om die situasie te verduidelik.”

Talle klante steeds ontevrede

Edith Barnard, tans een van die administrateurs by die Benna Bok Refund-groep op Facebook, het aan Maroela Media gesê sy het haar geld van die aanlyn winkel op 8 Oktober ontvang nadat sy ʼn WhatsApp-groep vir ontevrede klante begin het.

“Ek het my bestelling op 23 Augustus geplaas en moes binne ʼn uur ʼn EFT-oorbetaling doen of anders sou die bestelling gekanselleer word.”

Volgens Barnard was die afleweringstydperk toe nog tussen drie en 30 dae. Sy het ná die afleweringstydperk verstryk het, begin navraag doen oor hoekom sy nog nie haar bestelling ontvang het nie. Sy is onbeskof behandel en ʼn stadium self geblokkeer op die onderneming se Facebook-blad.

Barnard het daarna self ondersoek oor Benna Bok ingestel en op die Facebook-groep afgekom waar talle klagtes oor die aanlyn winkel se diens is. Die groep het nou meer as 900 lede en daar is ook ʼn WhatsApp-groep begin vir ontevrede klante waarvan sowat 400 mense deel is.

“Benna Bok het vir my ʼn prokureursbrief gestuur wat ek aan my prokureur oorhandig het. Ek het die gevoel gekry ek het net my terugbetaling ontvang om my te stil te hou en aan te moedig om die WhatsApp-groep te sluit.”

Van die klagtes van ander klante is dat hulle geblokkeer word as hulle navraag doen oor die aflewering van hulle bestellings ná 30 dae. Hulle moet wag vir hulle terugbetalings en dikwels met regstappe dreig voor dit plaasvind. Ander klante ontvang weer net die helfte van hulle bestellings en as hulle produkte terugstuur omdat hulle daarmee ontevrede is, hoor hulle net nooit weer van die aanlyn winkel nie.

“My raad aan enige voornemende klant is dat mense uiters versigtig moet wees wanneer hulle aanlyn produkte aankoop en deeglik huiswerk doen oor die onderneming voordat hulle hul geld oorbetaal,” voeg Barnard by.

Gideon Pienaar, ʼn prokureur, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy het sy kliënte geadviseer het om ʼn saak van bedrog en diefstal teen Benna Bok te open.

Pienaar wil ʼn klasaksie namens sowat 120 klante wat terugbetalings eis van stapel stuur.

“Ek glo Benna Bok se bankstate sal die volle verhaal vertel van wat van hierdie klante se geld geword het.”

Volgens Pienaar is dié soort sake nie moeilik of tegnies nie. “Dit is net duur omdat regsverteenwoordiging meer geld kos as wat die klante van die onderneming terugeis, vandaar die poging om ʼn klasaksie te begin.”

Verbruikerskenner gee raad

Ina Opperman, ʼn kenner van verbruikersake en gereelde rubriekskrywer op Maroela Media, sê klante het ongelukkig gewoonlik min simpatie met ʼn onderneming se verduidelikings waarom hulle nie ʼn produk of ʼn diens kan lewer soos aanvanklik beloof is nie, veral as die klant reeds daarvoor betaal het.

Aanlyn aankope val onder die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Volgens die Wet op Elektroniese Transaksies moet ʼn webwerf wat produkte verkoop aan sekere vereistes voldoen. Dit moet onder meer verduidelik hoe jy kan betaal, wanneer die produk afgelewer sal word en hoe dit omgeruil of teruggestuur kan word indien ʼn verbruiker nie tevrede is nie. Die webwerf moet ook uiteensit hoe terugbetaling gedoen sal word en wat die webwerf doen om jou persoonlike inligting te beskerm.

“Dit is waarom verbruikers veral versigtig moet wees om produkte direk van Facebook af te bestel, want dit is hoe mense hierdie vereistes, wat die verbruiker beskerm, omseil,” maan Opperman.

Sy sê ʼn verweer soos dat ʼn aanlyn winkel handgemaakte produkte verkoop en dit kan veroorsaak dat die afleweringstydperk selfs nog langer mag neem, is eenvoudig nie geldig nie.

Verbruikers kan hulle ook op verskeie artikels in die Wet op Verbruikersbeskerming beroep om hulle te beskerm.

“Artikel 47 stel dit duidelik dat ʼn onderneming nie geld aanvaar as hulle beplan om af te lewer of as daar nie genoegsame voorraad beskikbaar is nie. Artikel 19 stel dit weer dat goedere binne ʼn redelike tydperk verskaf moet word tensy dit spesifiek anders ooreengekom is. Artikel 41 sê ook ʼn onderneming mag nie valse of misleidende voorstellings van hulle produkte of dienste maak nie.”

Opperman meen dit is net swak sakebeginsels om mense se geld te vat om grondstowwe te koop sodat ʼn onderneming sy voorraad kan aanvul, as dit nie van die staanspoor beskikbaar is nie.

“Ek dink dit moet ʼn les wees vir verbruikers om eenvoudig net nie onderhandelinge aan te gaan as hulle sien die verskaffer kan vreemde verskonings aanbied oor hoekom ʼn produk of diens nie teen ʼn spesifieke datum gelewer kan word nie.

“Dit sal entrepreneurs ook dwing om genoeg voorraad op te bou voor hulle begin adverteer.”

Opperman sê ontevrede kliënte kan hulle tot die hof vir klein eise wend sonder enige regsverteenwoordiging om ʼn onderneming te dwing om hulle geld terug te betaal indien hulle nie tevrede is met ʼn produk of diens nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ai tog ·

Jy gee ons, die mense wat d.m.v fb verkope doen n slegte naam en ek hoop regtig jy sorteer die gemors spoedig uit

Skelm verby ·

Hierdie is hulle 5de of 6de aanlyn winkel truuk elke keer onder ‘n ander naam. SKELMS!

Ontevrede Klieënt ·

Ek stem heeltemal met jou kommentaar Skelm verby…..hulle het baie stories en ignoreer en antwoord natuurlik nooit ‘n foon nie….(as die foon wel bestaan)

ONTEVREDE KLIEëNT ·

Nou is Benna Bok vol stories. Ek het ook ‘n handsak bestel en langer as 2 maande gewag, na ‘n heen en weer epos stuurdery. Nog steeds het ek net die handsak ontvang, maar nie die grimeersakkie nie. Toe ek daarna vra of fb was ek net geignoreer tot vandag toe…..Ek het toe maar moed opgegee. Ek weet ook van klante wat skoene bestel het en nog geen skoene of refund gekry het nie……
NEE WAT BENNA BOK, SOOS JULLE BESIGHEID DOEN IS DIT GEEN WONDER JULLE VERLOOR KLANTE

Elisia du Plessis ·

Het iemand al ondersoek ingestel na hulle vorige ondernemings??
Ek het hulle page op Facebook gevolg en genadiglik voor ek iets wou bestel die klagtes gelees, toe sien ek dat hulle ook die eienaars is(was) van Franella (skoene)…daar het ek dieselfde oorgekom, bestelling geplaas en die maande het verby gegaan sonder dat ek iets onrvang. Toe ek begin kla daaroor en my geld wil terughê het hulle my met prokureurs gedreig en geblok…
Dit sal gaaf wees as hulle dit ook wou verduidelik…

Lorett Brittnell ·

Sy en haar man is die grootste skelms en ek is net so sleggesê en gedreig. Nooit n skoen of my R700 teruggekry by Franella Footwear.Om van ongeskik nie eens te praat.

Tom Clancy ·

Karoo-ella, franella, nell hat designs en daar is nog ‘n klere besigheid in die begin gewees ook.

Johnnie ·

Ons kan maar kyk sodra die net stywer om daai mense gespan gaan word gaan hulle net dood eenvoudig verdwyn met die klante se geld of hulle self bankrot laat verklaar, Dis groot skelms die.

Nadia ·

Ek het ook, soos talle ander dames, geval vir hierdie slenter. My bestelling is geplaas, en betaal, op 31 Julie 2018. E-posse word geignoreer, oproepe word nie beantwoord nie en jy word geblok op hulle Facebook bladsy sodra jy enige kommentaar lewer, net sodat voornemende klante nie kan sien wat aangaan nie. Hoe hierdie mense slaap in die aand weet nugter. Ek het gevra vir ‘n refund, want ek wil niks in my huis hê met Benna Bok se embleem op nie. Ek het aanvaar dat ek nooit produk of geld sal sien nie en het aangesluit by Gideon Pienaar se klasaksie om te keer dat ander mense ook val vir hulle skelmstreke. Waarsku asb al jou vriende om NOOIT hierdie mense te ondersteun nie. Mense wag al van 2016 af vir produkte wat hulle bestel het toe die besigheid nog Franella was. Intussen was dit verander na Karoo Ella, Bella Bok, Benna Bok, en wie weet wat nog als. Skelm verby!!!!

Elize ·

Skoene bestel en betaal op 1 Aug. 2018. Geen antwoord op navrae en eis vir terugbetaling. Hul vorige Prok. Van Staden het hulself ook onttrek aan die terugbetalings eise en my so ingelig. Indien n werklike besigheid hoekom 2 adresse? Braam Pretorius str en toe Zambezi Rd? Maak werlike adres bekend of hoe! Hul antwoord ook nie die verbruikers ombudsman se navrae nie, hoekom? GROOT LIEG STORIES.

Ontevrede ·

Op die Benna Bok Refund groep op facebook kan jy werklik sien hoe skelm Benna Bok is. Die meeste mense bestee meer as R1000. As jy diegene vat wat daar aangedui het hulle kry nie hul goed of hul geld terug nie en jy maal dit R1000 per kliënt, het Benna Bok meer as n miljoen reeds in hul sakkie. Daar alleen is amper n duisend onafgehandelde bestellings… so hulle 600 vragbriewe en 15 vragbriewe is n klap in die kliënte se gesig.

Hulle dreig jou met hofsake en blok jou kommunikasie as jy jou geld terugvra en gebruik dieselfde 4 fotos van “happy customers” teen die persoon op die foto se wense as bemarking. Die happy customers het nie eers al hulle goed gekry nie.

Nuutste truuk: hulle stuur nou soms n handsak of so uit. Maar dit is nou sommer baie kleiner as die spesifikasies aangedui. En die skoene val uitmekaar na een keer se dra, aldus die enkeles wat wel hulle goed gekry het.

Nee wat. Bly weg van die skelms af.

Judy ·

Ek het ook op 31 Julie bestel en betaal… Was ek maar net meer versigtig… Petro en Frank is ongeskik en hulle modus operandi is om mense te dreig! Ek sê ook hulle is skelm! ?

Thys ·

Ek is altyd verstom wanneer ek persoonlik met besighede te doen kry wat swak diens lewer. Nee ek het nig nooit van BB gehoor nie, ek praat in die algemeen. En dan is dit sulke mense wat so oor BEE, Zuma en die ANC kla wanneer dit met hulle sleg gaan. Nee wat, in 99.99% van alle gevalle is dit die persoon in die spieël se skuld.

Tom Clancy ·

Waar was frank vermeulen toe Petro Karoo-Ella of Frannella gehad het? Wat was haar verskonings vir daai aanlyn winkels gewees? Frank vermeulen het net al die skelm streke van Petro oop gekrap.

Hannelize ·

Dit is mense soos die wat ek glad nie aanlyn koop nie. As ek nie my voete in die besigheid se deure kan sit nie. Is ek jammer.

Kyle ·

Petro Botha, jou personeel te kort en al jou verskonings is NIE my probleem NIE, “jy was nie bewus nie” watter tiepe eienaar is jy dat jy nie eens weet wat in jou maatskapy aangaan nie? Mense raak siek en sat vir julle flou verskonings.

Wdw ·

Bly weg!!! Het Julie bestel. Nog niks gekry. Antwoord ook nie op navrae. Gaan vlieg BB

HPV ·

Persoonlik ondersteun ek asook ons besigheid geen besigheid wat op Facebook besigheid doen nie, slegs besighede met geverifeerde webtuistes.

HPV ·

Mens behoort voor jy met enige besigheid begin sake doen net die volgende woorde te “google” Besigheid naam gevolg deur “complaints”, dit is so maklik soos dit.

Hentie ·

Selfs Hello Peter kan n onskatbare bron van inligting gee.

Carin ·

Ek het ook in Augustus items bestel. Ek is ‘n klein besigheideienaar en ondersteun dus graag ander “start-ups”. Wag nog steeds. Geblok op al wat ‘n moontlike platform is, fone en eposse bly onbeantwoord. Ek wou iets se oor die swak diens, maar selfs dit sou oordrewe wees, aangesien daar bloot eenvoudig GEEN diens is nie. Skaam julle, Benna Bok. Ek sal nou twee keer dink voor ek weer ‘n mede klein besigheidseienaar ondersteun.

Hentie ·

Ja se ek ook. So insident raak ons entrepeneurs almal met aanlyn besighede.

Hentie ·

Die besigheid is vir ewig geskaad. N klad op haar naam wat laaaaaaaank gaan vat om te herstel …. besigheid is n fyn wetenskap …..

Alma ·

Sjoe, en dan praat sy van NOG voornemende kliente. Sy kan dan nie eers n diens aan bestaande klient lewer nie. Hoe op dees aarde dink sy gaan sy aan toekomstige kliente n diens lewer?

Bianca ·

Ek het 27 Junie my bestelling geplaas (met 5-30 dae wagtydperk) en moes binne een uur betaal. Ek wag nou nog vir my bestelling. Ek het 10 Augustus ń aansoek gedoen vir ń terug betaling en al die dokumente ingestuur. Ek wag nou nog vir dit ook. Ek het al met die eienaar self gepraat, Frank, Loraine, Anton, maar elkeen het elke keer iets anders as ń verskoning gehad en ander leë beloftes gemaak. Ek bel, email, plaas op sosiale media en stuur selfs wahatsapp boodskappe wat gelees word, waarna ek orals geblok en geïgnoreer word. Wat gebeur met ons geld of bestelling. Teen hoeveel dae moet ons nou nóg wag om ons bestellings te ontvang of of terugbetalings. Ek kan nie glo daar is geen beheer nie. Net beheer om die geld uit te gee, maar nie om ons geld terug te betaal of ons bestellings werklik te maak en af te lewer nie. Gee eers die mense se geld of bestellings, wat al amper VYF MAANDE wag, voordat julle nóg meer ontevrede kliënte kry en nóg meer ń swakker naam voorsit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.