Benoemdes vir DA-leiersposisies bekend

Argieffoto

Die twee kiesbeamptes vir die DA se landwye federale kongres, Desiree van der Walt en Greg Krumbock, het die finale amptelike benoemings vir die party se leierskapsposisies aangekondig, nadat benoemings Vrydag gesluit het.

Die kongres vind op 31 Oktober en 1 November aanlyn plaas, en sal na verwagting deur duisende afgevaardigdes van DA-takke landwyd, asook buitelandse DA-takke, bygewoon word.

Twee benoemings is ontvang vir die posisie van partyleier, naamlik Mbali Ntuli en John Steenhuisen. Albei kandidate kom van Durban.

Ntuli is ʼn lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer en was die leier van die DA-jeug. Sy is ʼn voormalige stadsraadslid van die Ethekwini-metroraad in Durban en is die party se verkiesingshoof in KwaZulu-Natal – die enigste provinsie waarin DA-steun op alle vlakke gegroei het in die 2019-verkiesing. Terwyl die party in die res van die land rampspoedig gevaar en baie stemme en setels verloor het, het die DA in KwaZulu-Natal beduidend geroei met Ntuli as verkiesingshoof.

Ntuli is verlede jaar aangewys as een van die vyf voorste jong politici ter wêreld deur ʼn paneel wat internasionale top-leiers soos oudpres. Mary Robinson van Ierland, die sakeman en filantroop Mo Ibrahim en die Nederlandse oudpremier Jan Peter Balkenende ingesluit het.

Steenhuisen is die parlementêre leier van die DA, as sulks leier van die opposisie in die Nasionale Vergadering, en was sedert die bedanking van Mmusi Maimane ook die instaanleier van die party. Hy was vroeër stadsraadslid van die Ethekwini-metro in Durban, leier van die DA in die Ethekwini-metroraad, lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer, leier van die DA in die wetgewer en DA-hoofseep in die parlement.

Vir die posisie van federale voorsitter is dr. Ivan Meyer van Kaapstad eenparig benoem. Hy is tans Wes-Kaapse LUR vir landbou en is ʼn voormalige Wes-Kaapse provinsiale leier van die DA. Hy het ʼn loopbaan as akademikus aan die Universiteit Stellenbosch agter die blad met spesialisvelde beleidsvorming en regeringsbestuur.

Drie posisies as federale ondervoorsitter moet gevul word. Vier benoemings is ontvang, naamlik Anton Bredell, dr. Annelie Lotriet, Refiloe Nt’sekhe en Jacques Smalle.

Bredell is van Malmesbury en is tans die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering. Hy was die afgelope 20 jaar provinsiale voorsitter van die DA in die Wes-Kaap en was burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, wat dorpe soos Malmesbury, Moorreesburg, Koringberg, Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Darling en Yzerfontein insluit. Swartland is die enigste munisipaliteit in die land wat nog altyd sedert 1994 deur die DA en sy voorgangerpartye gewen is en dus nog nooit ʼn ANC-regering gehad het nie.

Lotriet is van Bloemfontein en is tans voorsitter van die DA se parlementêre koukus en ook provinsiale voorsitter van die DA in die Vrystaat. Sy was ʼn akademikus aan die Vrystaatse Universiteit en het ook ʼn baie gewilde program op die destydse Radio Oranje (tans bekend as OFM) aangebied.

Nt’sekhe is van Kempton Park. Sy is ʼn lid van die Gautengse wetgewer en is die DA se nasionale woordvoerder. Sy is tans een van die drie federale ondervoorsitters van die DA.

Smalle is van Louis Trichardt en is tans die provinsiale leier van die DA in Limpopo. Hy is ook die DA-leier in die provinsiale wetgewer van Limpopo.

Vir die posisie van voorsitter van die DA se federale raad is twee kandidate benoem, naamlik Mike Moriarty en Helen Zille.

Moriarty is van Johannesburg en is tans provinsiale voorsitter van die DA in Gauteng. Hy is lid van die Gautengse wetgewer en is die DA se verteenwoordiger op die veelparty-skakelingskomitee van die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

Zille is tans die voorsitter van die DA se federale raad. Sy was leier van die DA, premier van die Wes-Kaap en burgemeester van Kaapstad.

Daar is twee posisies beskikbaar as ondervoorsitters van die DA se federale raad. James Masango en Thomas Walters is onbestrede in hierdie twee posisies verkies.

Masango is van Evander en was die DA se provinsiale leier in Mpumalanga. Walters is van Johannesburg en is ʼn parlementslid.

As voorsitter van die DA se federale finansies is dr. Dion George onbestrede verkies. Hy is van Kaapstad en is ʼn parlementslid. Hy was op senior en gespesialiseerde vlak in die finansiële wêreld betrokke voordat hy die politiek betree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Die ou DA.Hulle het nog net 2 en ‘n halwe ondersteuners.Maak maak soos julle wil.Julle is net kantlyn grappie vir die wat nog iets voel in die land.

Dirk Mostert ·

‘n Groot verbetering onder Steenhuisen se leierskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.