ʼn Fietsryer in sy 30s is ernstig beseer nadat ʼn taxi hom Saterdagoggend in Vleiweg in Benoni, Gauteng, omgery het.
“Die man was in ʼn kritieke, maar stabiele toestand,” het Luyanda Majija, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Hy het ernstige been- en ribfrakture opgedoen en snyplekke in sy gesig.”
Die pasiënt is na die OR Tambo-gedenkhospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie. Die polisie stel ondersoek in.
Die Argus-fietsrytoer vind volgende naweek in Kaapstad plaas.