Benoni-man skuldig aan vrou se moord

Yolandi Badenhorst Foto: IOL

Yolandi Badenhorst Foto: IOL

Martin Badenhorst, ʼn versekeringsmakelaar van Benoni, is Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op sy vrou.

Regter Lettie Malopa het haar uitspraak gelewer, vier jaar nadat sy hofsaak begin het.

Badenhorst voer aan sy vuurwapen het in November 2007 per ongeluk afgegaan toe hy en sy vrou Yolandi in hul slaapkamer gestry het. Hy het bykans drie jaar gelede getuig dat sy vrou hom oor haar kêrel getart het, gesê het niemand wil hom hê nie en hom geklap het. Toe hy haar glo terugklap, het sy na sy vuurwapen gereik en twee skote afgegaan toe hulle oor die vuurwapen gestry het.

Sy het hom glo aangehou om hom aan te val, maar het vyf minute later gesterf.

Sy is in die maag en arm getref.

Badenhorst het gesê hy het ʼn Bybelvers gelees en vir haar gebid. Die hof het gehoor hy het nie ʼn ambulans telefonies ontbied nie, omdat hy glo te getraumatiseer en geskok was.

Malopa het egter die getuienis van Badenhorst se vorige minnares, Tania Cilliers, aanvaar. Sy sê hy het bely dat hy sy vuurwapen gegryp en sy vrou na die stryery geskiet het. Hy het glo ook gesê hy het nie ʼn ambulans gebel nie, omdat sy vrou in elk geval sou sterf.

Malopa het die getuienis van die staatspatoloog, prof. Gert Saayman, aanvaar wat gesê het die maagwond het tot Yolandi se dood gelei. Malopa sê, alhoewel die vrou binne 10 tot 15 minute sou sterf en haar kans op oorlewing baie skraal was, moes sy na ʼn hospitaal geneem word. “Dit was nie vir jou om te besluit om ʼn ambulans te bel of nie,” het sy aan Badenhorst gesê.

Badenhorst het sy skouers opgehaal toe die uitspraak gelewer is. Sy meisie het begin huil en uit die hof uitgestorm. Sy skoonma het ook gehuil, maar het hom omhels en gesê sy vergewe hom omdat God dit van haar verwag.

Badenhorst se saak is tot 28 Augustus uitgestel vir voorvonnisverslae. Sy borgtog is verleng. -SAPA

Lees ook:
Uitspraak uitgestel in Benoni-moordsaak
Man skiet per ongeluk sy vrou, bid en lees vir haar uit Bybel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.