Benoni-nagklubmoord: ‘Ek bid vir hulle ma’s’

Daniël Botha (26) kort voor sy dood.

Catharina Pretorius staar stip na die landdros. Sy wring haar hande onophoudelik. Dan word die saak uitgestel en sy laat sak haar kop weer verslae.

“Elke keer daag ons vroeg by die hof op. Dit is hartseer. Dit is frustrerend. Dit vat só lank en al wat ons soek, is geregtigheid,” sê Catharina ná afloop van die hofverrigtinge.

Die saak teen haar seun, Daniël Botha (26), se drie vermeende moordenaars is Vrydag weer in die Benoni-streekhof uitgestel. Die drie beskuldigdes in die saak, Gideon Fourie, Jacques de Lange en Sampie Hearn, staan almal tereg op ʼn aanklag van moord ná die voorval. Hulle ontken skuld en is vroeër op borgtog vrygelaat.

Die 26-jarige Botha, ʼn meestertegnikus by Land Rover en Jaguar, is in Julie 2018 na bewering so erg in ʼn kuierplek aangerand dat hy breindood verklaar is.

Daniël se ma, Catharina Pretorius, buite die hof. (Foto: Maroela Media)

“Dit [die hofsaal] voel soos ʼn martelkamer. My hele lewe is uitmekaargeruk en dit lyk of hulle [die beskuldigdes] dit nie verstaan nie. Dis asof hulle geen begrip of respek het vir hoe ons voel nie. Ek slaap nie in die nag nie. Die verlange, die eensaamheid …” sê Danie Botha, Botha jr. se pa.

Catharina sê al waarna hulle op soek is, is die waarheid oor wat presies daardie noodlottige aand gebeur het. “Ons ken nie die beskuldigdes nie. Ons soek die waarheid, dit is hoekom ons elke keer hier kom sit. Ons wil net weet wat gebeur het.

“Ek bid vir hulle ma’s. Gideon se ma. Jacques se ma. Sampie se ma. Hulle seuns is dieselfde ouderdom as my kind. Niemand wil hulle kind in die tronk sien nie,” sê sy.

Tog glo sy steeds diegene wat verantwoordelik is vir haar seun se dood moet boet daarvoor.

Haar man, André, sê die saak – wat nou reeds maande lank duur – het ʼn geweldige uitwerking op die hele familie. “Die ouens het nie ʼn benul waardeur ons gaan nie. Om ʼn kind te verloor …

Catharina Pretorius, haar man, André, Daniël se tannie Lettie van Eeden en Daniël se pa, Danie Botha, buite die Benoni-landdroshof. (Foto: Maroela Media)

“Ek kan sien wat dit aan my vrou doen. Of die skuldiges nou tien jaar of 20 jaar tronkstraf opgelê word, niks hieraan is regverdig nie.

“Ons het van die begin af gesê as hierdie jong mans onskuldig is, laat hulle gaan – moenie hulle lewe ruïneer nie, maar ons soek antwoorde.”

Landdros Ian Cox het die saak tot 5 Oktober uitgestel weens die begrafnis van ʼn nabye familielid wat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers vandag moes bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hester ·

Ek hoop en bid dat geregtiheid sal geskied vir die slagoffer . My hart gaan uit na die familie

JohanR ·

Ek wonder al oor die jare hoeveel jong mans is al dood of baie erg beseer in ‘n kroeg of ‘n nagklub in Brakpan, Benoni, Boksburg, Pretoria, Alberton, Germiston ens ens. Tenminste een of twee keer ‘n jaar is iemand erg aangerand en beseer. Se nie dit gebeur nie in ander plekke in die land nie maar kry die gevoel in die benoemde plekke en areas se kroe en nagklubs gebeur die baie. Aan Catharina Pretorius my innige simpatie. Ek hoop jy kry antwoorde en dat geregteheid sal geskiet.

Johann ·

Absolute gewetenloosheid! Van die hof EN die wat namens die moordenaars optree! En hulle kom daarmee weg. Laat my NIE vertel iemand wat die mag het om n saak af te handel…KAN dit nie doen nie? SHAME ON YOU!!!!!

Maryna ·

Die mamma lyk so weerloos, my hart bloei vir haar. Ek wil nie eers weet hoe dit moet voel nie.
Sterkte julle, dit kan glad nie maklik wees nie :'(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.