Die familie van die tienerseun van Benoni wie se liggaam in stukke langs ʼn treinspoor gevind is, het nog geen antwoord oor die oorsaak van die 17-jarige se raaiseldood nie.
Michael Gordon Ross se liggaam is op 4 Mei gevind nadat hy op 12 April vermis geraak het.
Maroela Media het vroeër berig Ross sou die Sondag sy broer en nog vriende by ʼn dam ongeveer twee kilometer van hul huis af ontmoet het. Hy sou sommer die kort afstand na die dam stap, maar het nooit by die dam opgedaag nie.
Inge Harris-Webster, Ross se stiefsuster, het Woensdag aan Maroela Media gesê die gesin wag steeds vir ʼn verklaring oor wat haar broer se dood veroorsaak het. “Die enigste terugvoer wat ons tot dusver gekry het, is dat die miete wat op sy liggaam gevind is ʼn aanduiding is dat hy tussen 25 en 27 April dood is, dit wil sê omtrent twee weke nadat hy vermis geraak het,” het sy gesê.
“Hulle doen nog toetse op sy beendere en ons wag om te hoor of enige beendere vermis word. Die saak by die polisie is steeds oop totdat ʼn verslag oor die oorsaak van die dood bekendgestel word.”
Harris-Webster het kort nadat Ross se liggaam deur ʼn man gevind is wat vuurmaakhout in die omgewing opgetel het, gesê die familie is oortuig Ross is vermoor. “Hy was nie betrokke by onderduimse goed nie en daar was nie gedragsprobleme of ongelukkigheid by die huis nie. Hy was ʼn spontane, opgewekte mens.”
Ross was ʼn leerling aan Hoërskool Hans Moore.
Ai dis hartseer, ek as ouer van n 19 jarige seun kan myself net indink hoe hierdie familie moet voel. Sterkte vir die pad voorentoe.
Het seker nie ‘n opgeleide persoon wat die outopsie kan doen nie…..
Ek hoop hulle sal uitvind wat met die arme kind gebeur het
Ag dit is so vetskriklik wreed! Daar loop soveel “siek” mense rond. My hart gaan uit na sy ouers en res van sy gesin en ek bid vir hulle. Mag die skuldiges boet!