Benoni-vliegongeluk: ‘God se genade dat nie meer dood is nie’

Die vliegtuig se wrak. Foto: Twitter

Die vliegtuig se wrak. Foto: Twitter

ʼn Oostenrykse egpaar en ʼn plaaslike vlieënier het in Woensdag se vliegongeluk in Benoni aan die Oos-Rand gesterf, kort nadat die ligte vliegtuig by die Brakpan-vliegveld opgestyg het.

Die vliegtuig, van Sky Africa, het omstreeks 10:45 by die vliegveld vertrek en was onderweg na ʼn wildplaas in Limpopo waar die toeriste vakansie sou gaan hou het toe die vliegtuig kort daarna in ʼn sportpark in die Wattville-township neergestort het.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid, het Donderdag aan Maroela Media gesê die vliegtuig wat neergestort het, is ʼn private Piper PA32.

“Die oorsaak van die ongeluk is in dié stadium nog nie bekend nie en word ondersoek,” het Ledwaba gesê. “Die spoed waarteen ondersoeke afgehandel word, wissel weens die ingewikkeldheid daarvan en kan soms maande duur om te voltooi. In gevalle waar ʼn ondersoek langer as ʼn jaar duur, sal die ondersoekspan ʼn tussentydse verklaring uitreik. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal ʼn finale verslag bekend gemaak word met aanbevelings om soortgelyke voorvalle te voorkom.”

Rdl. Mondli Gungubele, die uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni, het die toneel besoek en gesê die slagoffers moet ʼn angswekkende en pynvolle dood gesterf het. “Dit is net God se genade dat daar nie meer mense seergekry het nie, aangesien dit in die park tussen ʼn spul huise neergestort het. ʼn Paar minute later sou die park vol skoolkinders gewees het,” het Gungubele gesê. Hy het lede van die gemeenskap bedank wat ná die ongeluk mense uit die wrak probeer red en die vlamme help blus het.

Claus Reisner, die hoof van die Oostenrykse ambassade, het aan Maroela Media bevestig dat hulle daarvan bewus is dat twee Oostenrykse burgers in die ongeluk omgekom het. “Ons was reeds in verbinding met hul familie en wag vir die Suid-Afrikaanse owerheid om die ondersoek af te handel en die liggame te oorhandig sodat dit geëien kan word. Sodra hulle geëien is, sal hul name bekendgemaak word. Die ambassade sal die familie bystaan,” het Reisner gesê.

Dipuo Peters, minister van vervoer, het ná die ongeluk haar ontsteltenis en skok oor die tragedie uitgespreek. “Die vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het buite beheer geraak. Dit het in die rondte getol voordat dit neergestort en op die dak tot stilstand gekom het,” het Peters gesê.

Sy het gesê die departement staan die lugvaartowerheid by in sy ondersoek. Peters het haar innige meegevoel met die geliefdes, familie en vriende van die oorledenes betuig.

Sky Africa kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marie ·

Waar was god se genade vir die drie in die vliegtuig voordat dit geval het?

Joa ·

Hoe weet jy of die dood van enige persoon nie God se genade is nie. Hoe ons die dood ervaar of hoe dit ons beinvloed is nie dieselfde vir God nie.

Andrea ·

Marie, jou aanmerking is onvanpas.
Wonder wat sou jy gese het as so iets moes gebeur het minute voordat jou kinders of kleinders oudergewoonte daar sou gespeel het?

Ek stem volkome saam met Joa!

FC ·

Hoekom is daar steeds vliegvelde feitlik in die middel van ‘n beboude gebiede ? (Soos hierdie een in Brakkies)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.