Beoogde verbod op geblikte leeujag wyd verwelkom

Die voorgestelde verbod op leeus in aanhouding is uit talle oorde verwelkom. (Argieffoto: Four Paws)

Die voorgestelde verbod op leeus in aanhouding wat op aanbeveling van ʼn hoëvlakpaneel gedoen is, is wyd in die bedryf verwelkom.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het die verslag wat handel oor die beleid, regulatoriese maatreëls, gebruike en beleidsposisies oor jag, handel, aanhouding, bestuur en hantering van olifante, luiperds, leeus en renosters, Sondag bekend gestel.

Die besluit dat sogenaamde geblikte leeujag ʼn nekslag toegedien gaan word, het veral reaksie ontlok. Die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging (SA Jagters) het die verslag as “ʼn stap in die regte rigting” bestempel.

Die vereniging sê dit maak voorsiening vir ʼn hervormde wildlewesektor wat konsentreer op florerende wild en wildbestuurde wildlewebevolkings, terwyl daar wegbeweeg word van teel in aanhouding.

SA Jagters sê die aanbevelings is in ooreenstemming met sy eie beleid. Hy sê ook mense het ʼn verantwoordelikheid om die koste van hul bedrywighede, veral wanneer diere tot mense se voordeel gebruik word – of dit nou vir fotografie-toerisme, jag of ander doeleindes is – in ag te neem.

“Die wildlewebedryf moet omgewing- en ekologies volhoubaar wees en maatskaplik verantwoordelik optree wanneer hy na die erfenis van alle burgers omsien. Die vereniging verwelkom die nuwe, voorgestelde benadering tot groter volhoubaarheid en ʼn omkeer van die neiging tot die makmaak van wildlewe, ook leeus en renosters.”

SA Jagters het in 2015 reeds ʼn beleid oor teelpraktyke van diere in aanhouding aanvaar en het dit duidelik gestel dat die vereniging gekant is teen die kunsmatige of onnatuurlike manipulasie van die wildlewe. “SA Jagters pleit by sy lede om hulle te weerhou van die handel in en jag van diere wat gemanipuleer of in aanhouding geteel is, en moedig hulle aan om bedrywighede in wildlewegebiede aktief te ondersteun en te bevorder.

“Wildlewe behoort wild te wees en ook so gewaardeer word.”

Die toerismebedryf het ook die aanbevelings verwelkom. Die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) sê hy is veral bemoedig omdat die paneel ook die siening handhaaf dat die geblikte leeuteelbedryf nie tot bewaring bydra nie en afbreuk doen aan die land se bewaring- en toerismereputasie.

“Ons data wys dat die persepsie dat toeristeaantreklikhede wat interaksies met diere aanbied oneties is, die internasionale beeld van Suid-Afrika en die uitwerking op die toerismebedryf geweldig kon beïnvloed,” sê David Frost, uitvoerende hoof van Satsa.

Satsa het in 2019 al ʼn gids oor diere-interaksies bekend gestel om die bedryf – en besoekers – te help om ingeligte besluit oor dié soort bedrywighede te neem.

Keira Powers, hoof van Satsa se komitee oor diere-interaksies, sê daar was ʼn duidelike skuif in openbare sentiment oor die “uitbuiting van diere vir vermaak” en dat dit ʼn uitwerking op die bedryf gehad het.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, bosbou en visserye, sê die verslag is bemoedigend, maar daar is steeds kommer oor sekere kwessies.

“Etiese jag is ʼn erkende aspek van die Suid-Afrikaanse ekonomie en ook ʼn aanvaarde deel van ons gedeelde kultuur. Dit is uiters belangrik om kennis te neem dat die universeel laakbare uitvoer van leeubene gestaak gaan word.”

Bryant sê daar is wel onbeantwoorde vrae, onder meer oor of die beëindiging van die teel van leeus in aanhouding bloot vervang gaan word deur die teel van leeus vir jagdoeleindes op groot plase, asook hoe die minister die bevordering van die jag van die Groot Vyf sien.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, sê die verslag is ʼn geskiedkundige oomblik wat die afdwing van verantwoordelike wildlewebestuur gaan moontlik maak.

SANParke het ook die voorgestelde verbod op geblikte leeujag verwelkom.

“Dit baan die weg vir ʼn positiewe trajek vir Suid-Afrika, gegewe die negatiewe opvatting wat baie toeriste en bewaringsorganisasies oor dié soort bedrywighede gehad het. SANParke hoop dat die verwagte groei in toerisme nie net werksgeleenthede gaan red nie, maar ook nuwe geleenthede sal skep vir diegene wat op waardekettings wat verband hou met geblikte leeujag, staatgemaak het,” sê Mketeni.

Hy sê Suid-Afrika het afgestuur op ʼn botsing met talle bewaringsvennote wat gekant is teen onder meer die teel van wilde diere in aanhouding.

Volgens Mketeni gaan SANParke ʼn kritieke rol speel in die inwerkingstelling van die paneel se aanbevelings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanR ·

‘n Leeu behoort in sy natuurlike habitat tensy hy soe beseer is of deur die Ma weggegooi is dat hy nooit weer by in bos trop sal aanpas, of aanvaar sal word nie. Maar daar sal iemand eendag se dat boobejaan of kudu bene gee jou woema in die bed, dan begin daar om die uit te roei.

Noels244 ·

Los wilde diere in die natuur, waar hulle hoort. Die mens het geen respek meer vir die natuur of die planeet in geheel nie. Waar daar geld betrokke is, raak mense doof en blind vir wat reg is.

Francois Le Cochon ·

Stem saam. In die Wes-Kaap waar ek bly het dit op ‘n tyd gewemel van die groot 5 en al wat boksoort is. Al hierdie diere is uitgeskiet, Olifante tot meer as ‘n honderd per dag deur een jagter. Nou is dit net plase met wingerde, gesaaides, koeie en skape.

Fritz ·

Een van die aanbevelings is dat alle leeus in aan houding van kant gemaak moet word!

Adri ·

Ek vermoed dit is omdat leeus wat hulle lewe lank in hokke of kampe aangehou was, nie weer in die natuur sal kan aanpas nie.

Kanjynoumeer ·

Tans ontvang ons die meeste van die tyd negatiewe nuus.
Hierdie is vir n slag wonderlike positiewe nuus.
Geblikte leeus was en is n euwel. Wreed!! Die leeus het nie n kans nie.
Jy kan net naar raak.

Debbie ·

Goeie genade ons land word stuk stuk uit geroei, nou tot ons diere

FBS ·

Wonder die mense wie se wild hoort in die natuur. Waar is die natuur vandag. Parke waar daar nie eers meer heinings om is nie? Kruger park waar die leeus vrek vanTB. Waar ’n lande soos Kenia en of Botswana minder as ’n derde van hulle leeus van 10 jaar gelede oor het?
Vergeet julle oningeligte emosionele siening en begin na werklikheid kyk. Die meeste kommentaar word gelewer deur emosionele siening of onkunde. Die arme Jagters Vereniging se siening laat ’n mens net wonder waar kry hulle hul naam.
Ek wonder, hoekom eet die mense hoenders, beesvleis. Die bees word geslag, vleis verkoop, vel verkoop en gebruik, benne word beenmeel van gemaak en verkoop. Alles tot voordeel van die mens. Het geen probleem daarmee nie. Maar die boer wat met leeus boer mag nie geld maak nie, mag nie sy produk gebruik nie. Want een of ander oningeligte, emosionele persoon voel leeus moet in die natuur wees. Waar is die natuur en geld om hulle te beskerm.
Ek is nie ’n leeu boer nie,

Gustav ·

Hierdie besluit gaan nog berou word. Dit is die eerste skoot in ‘n salvo wat die einde van die jagbedryf gaan beteken. Die einde van die jagbedryf gaan ook die verdwyning van die grootste bewaringswonderwerk van die 20ste eeu – die Suid-Afrikaanse wildplaasbedryf – veroorsaak. Miljoene diere is in die gedrang.
En net ‘n kopknik in die rigting van SA Jagters vir hulle epiese huigelary. Nou is hulle so vroom gekant teen die jag van diere “wat in gevangeskap geteël word,” terwyl dit 90% van die diere wat hulle jag, beskryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.