Beplande plaasmoord gefnuik

Argieffoto

Argieffoto

Vyf verdagtes tussen 21 en 39 jaar oud is in Potchefstroom in hegtenis geneem nadat hulle glo met ʼn huisplan en drie vuurwapens betrap is.

“Die polisie het ʼn wenk ontvang dat die verdagtes ʼn rooftog by ʼn plaas in Viljoenskroon beplan het,” het sers. Thabo Litabe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie van Viljoenskroon en Vredefort in die Vrystaat en Potchefstroom in Noordwes het omstreeks 12:00 reageer en strategies lede ontplooi by verskillende punte tussen Potchefstroom en Viljoenskroon.

Litabe het gesê lede van die gemeenskap van die betrokke dorpe het ook saam met die polisie gewerk en die verdagtes is uiteindelik by ʼn sekere taverne in Potchefstroom opgespoor. Die verdagtes het glo ʼn paar drankies gedrink voordat hulle hul plan sou uitvoer.

“Die polisie is na die taverne en het die vyf mans aangetref,” het hy gesê. “Hul voertuig, ʼn wit sedan, is deursoek en die polisie het beslag gelê op ʼn speelgoedgeweertjie, ʼn .38-rewolwer en ʼn 9 mm-pistool.”

Die polisie het ook ʼn huisplan in hul motor opgespoor van die perseel waar hulle die beplande rooftog sou uitvoer. Die huis is ʼn plaashuis in Viljoenskroon.

“Die mans is dadelik in hegtenis geneem,” het Litabe bygevoeg. “Hulle staan tereg op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens en sameswering om huisbraak te pleeg.”

Hulle sal Vrydagoggend in die landdroshof in Potchefstroom verskyn.

“Die aanvalle op boere is ʼn baie ernstige misdaad,” het lt.genl. Thabethe Mpembe, die Vrystaatse polisiekommissaris, gesê. “Ons sal dit nie in ons provinsie duld nie. Ons sal steeds diegene wat hierdie afskuwelike dade beplan en uitvoer, in hegtenis neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Asjas ·

Welgedaan aan almal betrokke. Dit is lekker om berigte soos hierdie te lees.

SNEL ·

Wonderlik, Dis nou uitstekende werk wat gelewer is hier deur die polisie. Hoop die ander leer by hierdie klomp hoe dit gedoen word.

ladybug ·

Dis goeie nuus, kyk die polisie en die gemeenskap span saam – dis hoe dit hoort, so sal ons saam-saam die oorlog teen misdaad wen!

Hopelik kry die blixems nou nie borg nie!

Vic ·

So, as daar n huisplan is, was daar samewerking van binne, of het hulle die huisplan van die ‘local council’ gekry?

Marietjie ·

Ek is baie bly hulle is gestuit, maar waar het hulle die huisplanne gekry? Kontak by die Munisipaliteit? Drink ‘n paar drankies voor die daad en pleit dronk in hul verdediging.

sonia ·

Baie goeie nuus vir ‘n slag. Ek is dankbaar dat die Polisie reageer het en die daad gestop het voordat dit plaas gevind het. Volg nou op en kry die persoon wat hulle van die Huisplanne voorsien het want daar is jou begin punt :) wel gedaan so maak mens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.