Beplande wet oor dronkbestuur dalk dán al van krag

Fikile Mbalula, minister van vervoer (Foto: Kopano Tlape, GCIS)

Padverbruikers kan dalk al in die komende feesseisoen genoodsaak wees om selfs net ʼn druppel alkohol van die hand te wys voor hulle agter die stuurwiel inklim. Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag gesê die regering wil wysigings aan die Padverkeerswet reeds voor Desember deurvoer.

Mbalula het nuwe regulasies met betrekking tot vervoer tydens vlak 2 van die afsonderingsregulasies bekendgemaak. Hy het ook uitgebrei oor die regering se planne vir ʼn wetsontwerp waar alle voertuigbestuurders voortaan geen alkohol in hul bloedstroom mag hê wanneer hulle agter ’n stuurwiel inklim nie.

Volgens Mbalula is die Wysigingswetsontwerp oor Padverkeer verlede maand reeds aan die parlement voorgelê, maar moet dit nog finaal goedgekeur word.

Tans is die wettige alkoholvlakperk vir bestuurders 0,05 g per 100 ml bloed.

Mbalula sê alhoewel daar nie ’n permanente verbod op alkohol in die land ingestel kan word nie, kan die gebruik daarvan wel strenger reguleer word.

Maroela Media het vroeër berig padongelukke waarby dronkbestuurders betrokke is, kos die land se ekonomie jaarliks nagenoeg R18,2 miljard. Volgens die minister het navorsers bevind alkohol speel ʼn rol in 27,1% van noodlottige ongelukke in die land en dat wetgewing hieroor verskerp moet word.

Vervoer op paaie

Interprovinsiale reise word nou vir motoriste toegelaat, hoewel busse en minibustaxi’s wat sulke reise aanpak slegs mense teen maksimum 70% van hul laaikapasiteit mag vervoer. Dit geld ook vir langafstand-reise binne dieselfde provinsie.

Volgens Mbalula word langafstand-reise gedefinieer as enige afstand meer as 200 km, ongeag of provinsiale grense oorsteek word of nie.

Openbare vervoer, treindienste uitgesluit, wat reise van minder as 200 km aflê, kan passasiers teen 100% van hul kapasiteit vervoer. Treine kan passasiers slegs teen 70% van hul kapasiteit te vervoer.

Mbalula sê dit is van kardinale belang dat openbare vervoer moet voldoen aan die nodige veiligheid- en gesondheidsmaatreëls. “Geen pendelaar sal sonder ’n masker op ’n openbare vervoermiddel toegelaat word nie.”

Lugvaart

Mbalula het aangekondig dat nog vier Suid-Afrikaanse lughawens sal heropen vir kommersiële binnelandse vlugte vir sake-, vragvervoer en ander noodsaaklike doeleindes.

Die Mthatha-, Hoedspruit-, Phalaborwa- en Margate-lughawe het die groen lig gekry om te heropen. Altesaam 18 lughawens is dan nou weer aan die gang. Mbalula sê nog lughawens sal geleidelik heropen.

Alle internasionale passasiersvlugte word steeds verbied en nog geen datum van wanneer reise sal hervat, is bekendgemaak nie.

Skeepsvaart

Buitelandse bemanningslede word slegs in die Kaapstadse en Durbanse hawe toegelaat, onderworpe aan die sekere voorwaardes.

Passasierskepe word steeds nie in Suid-Afrika se hawens toegelaat nie; slegs vragskepe of vaartuie wat goedere vervoer word toegelaat om hawens binne te gaan. Passasierskepe wat Suid-Afrikaanse burgers of Suid-Afrikaners met ʼn permanente woonpermit terugbring, word toegelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kiepie ·

Pas net bestaande wetgewing oordentlik toe! Help niks jy maak die reëls strenger as jy dit nie kan beheer en toepas nie. Ons leef in ‘n land waar elkeen besluit watter wette vir hom geld en watter nie want almal weet die kanse is 99% dat jy nie vasgetrek gaan word nie.

tweeling ·

Julle kry dit nie eers reg om die onpadwaardige voertuie van die pad te kry nie, wat nog te sê van dronk bestuurders. Julle is net mags behep en vol praatjies dat iemand moet skrik. Gaan terug na die geskiedenis in Amerika en kyk hoeveel het dit gehelp om streng wetgewing in te bring.

Pompies55 ·

Pateties is nie eers n beskrywing vir mbalula en sy korrupte regering tjoms nie.Hulle bekke is groot want hulle word op belastingbetaler se koste rondgekarwei en kos hul niks.Sommige mense moet drink om varke en pateties te raak,ander is nugter pateties en varksug!

Frikkels ·

En hulle wil wetgewing verander oor 18,2 miljard rand se kostes. Hoeveel korrupsie is daar per jaar? Verander liewer die wette om korrupsie die nekslag toe te dien, daarmee sal ek saamstem. Maar wette word vir die burgery verskerp, en korrupte magsbehepte regerings amptenare kom skotvry van hulle skelmstreke omdat hulle kastig verhewe is bo die wet!

AndréS ·

Wetgewing beteken absoluut niks as dit nie toegepas word nie en daar lê die probleem

Vrystaat2109 ·

Volgens hom toon navorsing dat 27% van ongelukke alkhol verwant is, nou wat gaan jy ,Fikile, doen omtrent die ander 73% waardeur ongelukke veroorsaak word? Jou taxi tjommies,, gee vir ons die statistieke van hoeveel taxi verwante ongelukke voorkom asook onpadwaardige voertuie.

Judge ·

…..en wat ook nie genoem word is hoeveel van die 27% se alkohol vlak was hoor as 0.05 . Die probleem is my insiens nie die 0.05 vlak nie maar die toepassing om te verseker drywers bly onder 0.05. So om die vlak na nul te verander gaan min verander tensy toepassing verbeter.
Verwag ook maar dat beamptes saans om eetplekke gaan saamdrom om drywers vas te keer en bribes vra.

Rose ·

Ek hoop dit geld vir die wat so tik en dwelms gebruik ook. Voed eers jou stemvee op, dan sal ons sien. Julle kan wette maak tot al die ink op is, as die mensdom nie selfbeheersing het, sal alles net n windjie in die storm wees. Kan nie dink dat julle wette sal werk vir die wat so jillende betoog en brandstig nie. Hulle handhaaf nie eens die Covid19 wette nie.

Androclus ·

Hoe meer dae hoe meer dinge,gister se fopnuus van die drank het die mense mal gehad.

Snowball ·

Wette werk in lande waar wetstoepassers nie omkoopgeld vat nie.

Pampoen ·

Die problem lê nie by die limiet nie, maar by die toepassing daarvan. Dis so moelik om iemand te vang en die saak te bewys dat die meeste polisiemanne eerder die dronk ou huistoe neem. Deur die limiet laer te maak word net meer beperking op wetsgehoorsame burgers geplaas. Dit maak elke ordentlike ou se uiteet uitstappie nou onaangenaam.

koos10 ·

Geen wet in die wêreld gaan dronkbestuur stop nie. Wat wel dit kan stop is polisieëring en gedragsverandering.

Plaaskind ·

Deesdae word die verkeersbeamptes ook so maklik om gekoop, sal dit dan ooit help. Maak asb eerste plan met die taxi’s wat ry net soos hulle wil. Hulle is op die oomblik die grootste gevaar op die paaie.

Cleopatra69 ·

So kan hulle weer n paar rand kry as jy dalk ruik na drankie

Objektief ·

En die verkeers beamptes kry weer n lekker verhoging want die omkoop geld word meer. En wat van die daggaroker wat nieuit sy oe kan sien nie? Hoe gaan hulle beheer word?

Baardman ·

Straf die een wat die wet oortree, hoe op aarde dink hy kan inname beheer word.

Moedeloos ·

Ek wil graag sien hoe beheer hul wie dra maskers in treine en wie nie. Daar word op straat nie eens altyd masker gedra nie wat nog binnein treine of taxi’s. Lagwekkend.

Andre ·

Maar net weereens ‘n manier om die aandag van korrupsie af te lei. Ons wil graag 0 % korrupsie hê. Almal kan droom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.