Beplande wet sal kubermisdadigers vasvat

(Foto: Nahel Abdul Hadi/Unsplash)

Belangrike en omvattende wetgewing om elektroniese, rekenaargedrewe en aanlyn misdaad in Suid-Afrika te bekamp dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies in die parlement.

Die Wetsontwerp op Kubermisdaad en Kubersekuriteit sal na verwagting teen einde vanjaar of vroeg volgende jaar wet word en het belangrike implikasies vir rekenaargebruikers.

Enige onregmatige toegang tot ʼn rekenaar of rekenaarstelsel (dus sonder spesifieke toestemming of waar dit nie spesifiek by ʼn posomskrywing ingesluit is nie) sal strafbaar wees met ʼn boete of tronkstraf van tot vyf jaar, of albei.

Dieselfde straf sal geld vir enigeen wat data onregmatig bekom, uitvee, verander of gebruik, ʼn rekenaarprogram onregmatig gebruik of kopieer, data onregmatig stoor of onregmatig met ʼn rekenaarprogram kommunikeer. In hierdie gevalle beteken “onregmatig” sonder toestemming, dus sonder magtiging of ʼn tersaaklike bepaling in jou posomskrywing.

Kuberkrakers sal ook deur die wetgewing vasgetrap word. Kuberkrakers wat veiligheidsmeganismes oorkom om data te bereik, gebruik, bekyk of kopieer, sal strawwe van ʼn boete of tien jaar tronkstraf of albei opgelê word.

Die volgende oortredings is ook strafbaar met ʼn boete, tien jaar tronkstraf of albei:

  • onwettige besit van rekenaartoebehore om onwettige toegang tot data te verkry,
  • inmenging met data om dit uit te vee, te verander of te beskadig,
  • veiligheid van data te verminder,
  • met ʼn program in te meng of toegang daartoe te bemoeilik,
  • enige betreding of beskadiging van ʼn rekenaarstoormeganisme,
  • onwettige en doelgerigte besit, verskaffing of gebruik van ʼn wagwoord (dit sluit toegangskaarte en biometriese data in).

Drie nuwe oortredings, naamlik kuberbedrog, kubervervalsing en kuberafpersing word ook deur die wetgewing geskep.

Kuberbedrog is die gebruik van ʼn alternatiewe identiteit om ander onder ʼn wanindruk te bring of te benadeel. Kubervervalsing is die skep van vals inligting of identiteite om kuberbedrog mee te pleeg. Kuberafpersing is die gebruik van kuberinligting wat onregmatig bekom is om ʼn voordeel van ʼn ander persoon te verkry.

Die boetes en tronkstraf is soortgelyk aan die huidige sanksies teen bedrog, vervalsing en afpersing.

Vir al die bogenoemde oortredings geld verswarende omstandighede as dit betrekking het op data of ʼn rekenaarstelsel wat deur die staat as vertroulik of geheim verklaar is. Die straf hiervoor is ʼn boete of 15 jaar tronkstraf of albei.

Enige medepligtigheid aan bogenoemde oortredings, asook diefstal van enige data of tersaaklike programme en toerusting is deur die hof strafbaar.

Die wetsontwerp bevat streng maatreëls teen skadelike kuberkommunikasie. Dit sluit in die verspreiding van enige inligting wat haat of geweld of saakbeskadiging aanmoedig of dreig om dit te doen, of mense intimideer, asook wraakpornografie. Die verspreiding van sulke skadelike kuberkommunikasie kan ʼn boete of tronkstraf van tot drie jaar tot gevolg hê.

Die wetsontwerp is van toepassing op enige gedrag binne Suid-Afrika of deur Suid-Afrikaanse burgers en diegene met permanente Suid-Afrikaanse verblyfreg wêreldwyd.

Voorts bevat die wetsontwerp gedetailleerde regulasies en reëls vir klopjagte en lasbriewe, asook onderskepping van data en bewaring van getuienis deur die owerheid. Ook word uiteengesit hoe owerheidsliggame plaaslik en internasionaal moet saamwerk ter bekamping van kubermisdaad.

Elektroniese diensverskaffers word kragtens die wetgewing verplig om met die owerhede saam te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kootjie ·

Alla Maggies!! Dis pragtig!! Dog julle het dit alreeds gedoen ! Mooi soo! Trots op julle!! Uitstekend!!

Gert ·

Lyk vir my na ‘n oefening in futiliteit. Die internet is internasionaal, meeste kuberkrakers sit in Nigerië of in Asië, ons regstelsel het geen houvas op hulle nie.
Hierdie wet gaan weer misbruik word om omkoopgeld te eis by onkundige slagoffers.

LK ·

Laat ons maar eers sien of dit gaan plaasvind en tweedens gaan dit werk? derdens tot wie se voordeel? ek glo niks meer van niemand

Feite ·

Wetstoepassing is omkoopbaar en indien daar wel n wetstoepasser is wat nie omkoopbaar is nie, dan is daar n staatsaanklaer en as daar nie n staatsaanklaer is wat omkoopbaar is nie, dan is daar n landdros of selfs n regter. Wys vir my een gangster van politiek georkestreerde georganiseerde misdaad wat suksesvol vervolg is en dan sal ek glo dat georganiseerde kuber misdaad nie sal gedy nie, maar tot tyd en wyl, sal daar geen vertroue in enige stelsel vir die toepassing van wetgewing wees nie. SA beskik tans na staatskaping, oor die korrupste kader netwerk en selfverrykingstrukture wat die vasteland van afrika al ooit gesien het!

Wonder net ·

So as ek onder ‘n naam van “Wonder net” die indruk skep dat ek die All Blacks ondersteun, maar eintlik die Bokke, is dit kuberbedrog? Ek glo darem die beskrywing in die Wet sal meer duidelikheid gee, aangesien dit daar meer omvattend beskryf sal word.

Eddi ·

As jy nie eers algemene misdade kan bekamp en die misdadigers vang nie kan ek nie sien hoe jy die 45miljoen mense in ons land se rekenaars gaan monitor nie. Ek wonder of hierdie tipe wette nie net gaan gebruik word om dieselfde beperkings op ons internet gebruik soos in China in te pas nie.

Leon ·

Wees versigtig om optimisties te wees. As jy data uitwis op jou eie rekenaar en die owerhede hoor dit kan jy bebeoet word. Die wet is baie gevaarlik geskryf. Alhoewel dit miskien nie sal gebeur nie, maar jy is wel baie maklik in die moeilikheid. Die regering skryf deesdae wette wat baie maklik verkeerd verstaan kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.