Beplande wysigings aan Gelykheidswet gekap

Argieffoto: Pixabay.com

Verskeie instellings het Woensdag kommentaar gelewer op voorgestelde wysigings aan die Wet op Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (algemeen bekend as Pepuda of die Gelykheidswet). Dié organisasies is dit eens dat die wysigings verreikende en negatiewe gevolge vir die outonomiteit van gemeenskappe het en dat dit hul regte om hul geloof en kultuur uit te leef, aansienlik sal beperk

Maroela Media het voorheen berig dat Begrond van mening is dat die voorgestelde wysigings nie net die reg op vryheid van spraak bedreig nie, maar ook die reg op vryheid van geloof.

’n Wysiging aan die definisie van “diskriminasie” word ook voorgestel. Ingevolge die nuwe definisie sal dit nie nodig wees vir iemand om doelbewus op te tree voor hulle aan onbillike diskriminasie skuldig bevind word nie.

Verder word voorgestel dat werkgewers voortaan gesamentlik vir onbillike diskriminasie deur hul werkers aanspreeklik gehou kan word. Indien dit bevind word dat daar onbillik op grond van ras, geslag en of gestremdheid gediskrimineer is, kan dit boonop as verswarende omstandighede tydens ’n vonnisoplegging in ag geneem word.

Kommentaar

Die burgerregteorganisasie AfriForum het hulle kommentaar in samewerking met Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies MSW, en die Princess Gabo Foundation ingedien.

Dié instellings verwerp die voorgestelde wysigings aangesien dit die staat onbehoorlike mag sal gee om by gemeenskappe en hul instellings in te meng.

“Die wysigings is só ingrypend dat dit die regering die regsruimte sal bied om die hele samelewingsorde soos wat ons dit ken, omvêr te werp sodat dit volgens hul ideologie gevorm kan word,” sê Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum.

“Gemeenskappe het die reg en verantwoordelikheid om hulself te orden en binne instellings uit te leef in ooreenstemming met hul geloof, waardes en kultuur. Daarom verwerp ons dié wysigings.”

Wat die definisie van “diskriminasie” betref, sê die instellings indien dit verander word, die bedoeling van die beskuldigde hiervolgens van geen belang sal wees nie en dat slegs die klaer se ervaring sal tel.

Hulle sê voorts dat om die definisie van “gelykheid” te verbreed om sodoende gelyke reg en toegang tot hulpbronne, geleenthede en voordele in te sluit, strydig is met die kulturele gebruike van tradisionele gemeenskappe wat tradisionele leiers op grond van herkoms aanwys.

Burgerlike instellings en organisasies sal ook volgens dié wysigings aanspreeklik gehou word vir die optredes van hul lede en personeel terwyl dit onmoontlik is vir enige leierskap om die gedrag van ondersteuners te alle tye te bepaal.

“Die vrees vir vervolging kan burgerlike instellings dus lamlê.”

AfriForum en Begrond is ook ontevrede oor die voorstel dat die staat klaers se sake mag befonds, maar nie finansiële hulp hoef te voorsien aan diegene wat hulle teen die klagtes moet verdedig nie. “Op dié wyse sal gemeenskappe se belastinggeld byvoorbeeld gebruik kan word om vetes te voer.”

“Die voorgestelde PEPUDA-wetswysiging is weereens ’n bewys van die huidige ANC-regering se oormoedige arrogansie om die hele burgerlike samelewing te wil beheer en reguleer. As Christene teken ons sterk beswaar aan teen dié magsoorskryding.

“Die owerheid moet sy plek ken en ophou om vryheid van aanbidding en vryheid van spraak te probeer nasionaliseer,” sê dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond.

Buys sê voorts dat die openlike uitleef van geloof en selfs evangelisasie gevolglik nie sonder die moontlikheid van vervolging sal kan geskied nie.

Prinses Gabo Moroka, tradisionele leier en stigter van die Prinses Gabo-stigting, sê die wysigings dui op ’n gebrek aan respek vir die tradisies en gebruike van tradisionele gemeenskappe – spesifiek vir die kultuur van tradisionele leierskap.

“Tradisionele leierskap word gerig deur antieke kulture en gebruike wat deur ons voorgeslagte oorgedra is, en nie deur die ideologie van enige politieke party of die ideologie van absolute gelykheid nie.

“Burgers ly reeds daagliks onder swak regering op alle vlakke. Die regering behoort eerder daarop te fokus om huidige uitdagings die hoof te bied, en nie om bykomende mag wederregtelik toe te eien nie.”

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-parlementslid, het die voorgestelde wysigings as “skynheilig” bestempel en sê dat die party dit ten sterkste teenstaan.

“Hoewel die wysigings dalk goed bedoel is, sal dit daartoe lei dat organisasies en burgers gereeld vuilgesmeer word.

“Die kwessie van aanspreeklikheid binne organisasies is nóg ’n verhoogde risiko aangesien ‘bedoeling’ geskrap word.

“Dit is onredelik om dié las op organisasies se skouers te plaas en sal ondernemings ontmoedig om nuwe werksgeleenthede te skep.”

Die DA is verder van mening dat die wysigings soos dit nou daar uitsien, ’n skadelike uitwerking op werkskepping en die institusionele outonomie van privaat instellings sal hê.

“Ons sal die voorgestelde wetsontwerp tot die bittereinde beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Wat verstaan die regering nie? Ons betaal hulle nie om vir ons te sê wat hulle wil hê ons moet doen nie. Ons betaal hulle om die land te regeer.

Harley Davidson ·

Nou wat is BEE en kwotas gebaseer op velkleur na 30 jaar se demokratiese bewind dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.