Beraders na hoërskool gestuur waar Pta-juffrou sterf

Clapham High School. Foto: Via claphamhighschool.co.za

Die Gautengse departement van onderwys het ʼn span beraders na die Pretoriase hoërskool gestuur waar ʼn 60-jarige onderwyseres Dinsdag ineengestort en gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig die onderwyseres is by die Clapham High School in Queenswood dood.

“Volgens ʼn voorlopige ondersoek het die onderwyseres ineengestort en gesterf terwyl sy toesig oor ʼn eksamen gehou het. Die voorval was egter nie ten aanskoue van die leerders soos aanvanklik gedink is nie,” het Oupa Bodibe, woordvoerder van die departement, by navraag aan Maroela Media gesê.

Die onderwyseres het glo sleg gevoel en na die badkamer gegaan waar sy ineengestort het.

Hy het gesê die departement het ʼn volledige ondersoek na die voorval van stapel gestuur. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die vrou se dood te bepaal. Haar identiteit word weerhou totdat al haar naasbestaandes van haar dood in kennis gestel is.

“Die onderwyseres het jare se diens verrig en haar dood is ʼn groot verlies vir die skool en die departement,” het Bodibe gesê.

Panyaza Lesufi, LUR van die Gautengse departement van onderwys, het kort ná die voorval die skool besoek en onderneem om voort te gaan om ondersteuning aan die oorledene se familie te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

BAREND ·

ek moet een ding se “”die skool se onderhoud lyk goed””

Ronnie ·

Maroela, help my asseblief. Is dit nie net geboue wat ineenstort nie? Wat van inmekaargesak? Ek is jammer vir die onderwyseres, familie en die kinders. Sterkte!

Janie Monsieur ·

Dagsê Ronnie,

Dankie vir jou navraag. Volgens die sesde weergawe van die HAT is dit gepas om die woord ‘ineenstort’ te gebruik wanneer daar na geboue én mense verwys word.
Dit is dus in hierdie konteks nie foutief nie.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

VT ·

@Koos1: Ek verstaan nie hoekom dit nie vir jou sin maak nie. Ek vermoed jy voel die berig moes dalk eerder gelui het: “toesig oor leerders se eksamen” en nie net: “toesig oor ‘n eksamen” nie. Sou dit dan vir jou meer sin gemaak het? Want sien, hulle noem mos nou duidelik in die berig dat sy nie voor die kinders gesterf het (soos aanvanklik gedink is nie) maar eers badkamer toe gegaan het omdat sy sleg voel en daar inmekaargesak en gesterf het.

Stellie ·

Ek lees Maroela Media omdat hulle nie bang is om te erken n vorige berig was foutief nie! …. soos vroeer berig… welgedaan!

SARIE VAN HEERDEN ·

Volgens berigte elders het die teenwoordige leerders nie dadelik agtergekom iets skort met die onderwyseres nie. Hoe verklaar jy dit?

Riki ·

Sarie, as jy in ‘n eksamenlokaal is gaan jy konsentreer op die toesighouer of op jou vrae- en antwoordstel?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.