Beraming van skade ná Durban-storm bekend gemaak

Die storm in Durban (Foto: ANA)

Die eThekwini-munisipaliteit se uitvoerende komitee het bekend gemaak die koste om die skade te herstel weens die verwoestende storm wat op 10 Oktober in Durban gewoed het, sal meer as ʼn halfmiljard rand beloop.

Dié komitee het Maandag ʼn verslag goedgekeur wat aandui dat die koste om skade aan infrastruktuur te herstel nagenoeg R576 miljoen beloop.

Daar word onder meer R308 miljoen benodig vir ingenieursverwante herstelwerk, R250 miljoen vir menslike nedersettings, sowat R4,1 miljoen vir rampbestuur, R7,7 miljoen vir parke en ontspanning, R2,6 miljoen vir elektrisiteitsherstel en R2,3 miljoen vir water en sanitasie.

Tot 60 wyke en 3 112 huishoudings, waarvan 2 425 in die suide van die stad, is deur die storm geraak. Die munisipaliteit het Maandag in ʼn verklaring laat hoor die assessering van die skade is steeds aan die gang en dus nog nie finaal nie.

Die goedkeuring van die verslag gee toestemming aan verskeie eenhede om te begin met beplanning en die rehabilitasie van infrastruktuur op ʼn kort- en langtermyngrondslag. Dit verleen ook magtiging aan die rampbestuureenheid om ʼn evaluasie te doen van alle omgewings wat geneig is tot oorstromings, asook die kapasiteit van paaie se infrastruktuur en dreineringstelsels.

Die eenheid vir menslike nedersettings is ook in staat gestel om laekostebehuising, gemeenskapswooneenhede en informele nedersettings as ʼn noodmaatreël vir gemeenskapslede op te rig. Hierdie behuisingsoplossings sal onderhewig wees aan finansiering deur die KwaZulu-Natalse departement van menslike nedersettings.

Martin Xaba, waarnemende adjunkstadsbestuurder vir gemeenskap en nooddienste, het gesê dit is noodsaaklik vir die departement om te begin met die rehabilitasie van die beskadigde infrastruktuur. “Die goedkeuring van die verslag stel die departement van finansies ook in staat om spaargeld te vind om seker te maak die rehabilitasie van infrastruktuur kan voortgaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KLEINTJIE ·

Nkandla was dan amper die halfte van die hele Durban se koste. So wie word ingedoen en wie word bevoordeel

Jaco ·

Die werklike bedrag is seker aansienlik minder, ons weet mos almal hulle sit so bietjie extra by sodat al die kaders ook so ietsie kan kry…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.