Berei nóú voor vir beheerliggaamverkiesings

sos-leierskapkongres-2018-paul-colditz

Paul Colditz is die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). (Foto: Verskaf)

Die verkiesing van die meer as 300 000 nuwe skoolbeheerliggaamlede in Maart vanjaar is belangriker as ooit.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê leierskap was die deurslaggewende faktor in skole se hantering van die Covid-19-pandemie in 2020.

“Skole wat dié uitdagings suksesvol die hoof kon bied, het almal ʼn sterk leierskorps met die skoolgemeenskap en skoolbeheerliggaam aan die een kant en onderwysamptenare aan die ander kant wat goed saamwerk.”

Colditz benadruk dat openbare skole nie aan die staat behoort nie. “Dit behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Die skoolgemeenskap kan dus nie net terugsit en van onderwysdepartemente verwag om die leiding te neem nie.

“Hoe meer rolspelers uit die gemeenskap by die skool betrokke is, hoe groter die kans op sukses vir daardie skool.”

Skoolbeheerliggaamlede word elke drie jaar verkies en die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het bepaal dat die verkiesingstydperk vanjaar van 1 tot 31 Maart strek.

Met die inperkingsmaatreëls op sosiale byeenkomste en vergaderings tans, word Fedsas-lede aangemoedig om ʼn voldagverkiesing aan te bied. ʼn Voldagverkiesing kan ook elektronies aangebied word.

“Ons beveel Fedsas-lede aan om 30 dae voor die tyd aansoek te doen om die verkiesing aan te bied. Dit is ook belangrik dat beheerliggame kennis neem van die provinsiale regulasies vir beheerliggaamverkiesings rakende die aanbied van ʼn voldagverkiesing.”

Om toe te sien dat skoolgemeenskappe die verkiesingsproses asook die rol van skoolbeheerliggame verstaan, bied Fedsas op 1 Februarie gratis bekendstellingsessies oor die verkiesing aan. Die sessies word aanlyn aangebied en dit is oop vir alle belangstellendes, nie net Fedsas-lede nie. Colditz meen opvoedkundige vennote, geloofsgemeenskapleiers, nieregeringsorganisasies en skoolleiers sal ook by die sessie kan baat vind.

Die Afrikaanse sessie vind op 1 Februarie om 14:00 plaas en belangstellendes kan die volgende skakel gebruik om te registreer. Die Engelse sessie vind op 1 Februarie 2021 om 15:30 plaas. Gebruik die volgende skakel om te registreer.

Fedsas het ook ʼn inligting- en toerustingpakket saamgestel met die nodige dokumentasie om seker te maak dat die verkiesing geloofwaardig en professioneel aangebied word. Gebruik die volgende skakel om toegang tot die pakket te verkry.

Fedsas sal ná die verkiesing weer ʼn uitgebreide opleidingsprogram aanbied vir sy lede, sowel as vir beheerliggame wat nog nie lid van die organisasie is nie. Die volledige program word oor ʼn tydperk van ʼn paar maande aangebied en bestaan uit verskeie opleidingsessies, webinare, e-leerprogramme en ander inhoud.

Die opleiding van nuwe beheerliggaamlede fokus op beste praktyke en regsinterpretasies, asook inligting oor spesifieke onderwyskwessies en onderwerpe. Volledige inligting oor al die opleidingsgeleenthede is beskikbaar by die volgende skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.