Bergklimuitstappie eindig tragies vir vrou (40)

Die klein pers sirkel op die foto dui aan waar die vrou se liggaam gevind is. Foto: Bergklub van Suid-Afrika

ʼn 40-jarige vrou is dood toe sy tydens ʼn bergklimuitstappie in die sentrale Drakensberg sowat 25 m ver in ʼn diep, smal kloof ingeval het.

Die vrou het Saterdagaand saam met twee vriende in die vallei onder die Gray-pas gekamp, het Gavin Raubenheimer, KwaZulu-Natalse soek-en-redding-sameroeper van die Bergklub van Suid-Afrika, gesê.

“Hulle het vroeg Sondagoggend begin om Gray-pas uit te klim. Twee van die vroue het egter nie baie ver geklim nie. Hulle het omgedraai en besluit om te wag vir hul vriendin wat die kruin van die pas wou bereik.”

Die vrou wat aanhou klim het, is omstreeks 11:30 die oggend deur ʼn ander groep gesien net toe sy begin het om teen die pas af te klim. “Haar vriende het egter later die dag alarm gemaak toe sy nog nie teruggekeer het nie.” Die weer het Sondagaand begin versleg en dit was tot Dinsdagmiddag mistig en reënerig.

ʼn Veldwagter van KwaZulu-Natal-wildlewe se Monk Cowl en drie veldpersoneel het laat Sondagmiddag na die vrou begin soek. “Hulle het deur die nag gesoek. Daar is die volgende oggend ʼn gesamentlike span bestaande uit lede van die KwaZulu-Natal-wildlewe, die Bergklub van Suid-Afrika en die polisie se soek-en-reddingseenheid saamgestel. Vier snuffelhonde is ook vir die soektog ingespan.”

Die spanne het te voet vertrek vir die vier uur lange staptog om by die soekarea uit te kom. Volgens Raubenheimer is daar ʼn sekondêre basis by Keith-boskamp onder Grey-pas opgestel. “Die grondspanne het in vyf verskillende areas in mistige toestande gesoek. Teen laat Dinsdag was die vermiste vrou nog nie gevind nie.”

Die weer het egter begin opklaar en twee helikopters is ontplooi om met die soektog te help. “Kort hierna is die vrou in ʼn diep, smal kloof opgemerk en dit het geblyk sy het sowat 25 m ver geval. Daar is vermoed dat sy reeds dood was.”

Volgens Raubenheimer is die vrou se liggaam Woensdagoggend uit die kloof verwyder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gesiggie ·

My innige meegevoel aan die vrou se familie en vriende , dit is baie hartseer dat so n lekker kamp naweek so treurig moes eindig.

Anoniem ·

Baie hartseer, innige meegevoel met haar familie
Die goue reël in die berge is altyd, die groep mag nie kleiner as 3 wees nie, bly bymekaar maar indien iemand seerkry dan bly 1 by die beseerde en 1 gaan soek hulp ! Sterkte

Mo ·

Ai dis sleg.
Ken daardie area goed, maar dit lyk asof sy verdwaal het as sy vroeër teen die pas afgegaan het, en sy sou moes omdraai om by daardie kloof (soos aangedui) uit te kom.

Boer ·

Jy is reg. Sy het teen die verkeerde hang afgestap. Die pas is bedrieglik oppad af want daar is twee of so vals afdraaie

Anoniem ·

Om toekomstige ongelukke te voorkom sal dit nie goed wees om aanwysings te verbeter nie ? Ook om stappers beter in te lig nie !

Mo ·

Wat eintlik vir my meer ontstellend is dat drie vrouens alleen in ‘n area gaan oornag het wat eintlik as ‘n hoofweg vir daggasmokkelaars bekend staan…en dan gaan een alleen voort om die pas op en af te klim. Sonder kaart of GPS…Dit oortree alle basiese veiligheids reels van die Berg.

Niklaas ·

Ek was al n aantal kere op in die majestieuse Drakensberge na bo en het nog altyd n vrees en ontsag vir wat kan gebeur. Dis soos die see. Moet dit nooit onderskat nie . Jy moet daar in dir berge deurgans bewus wees van die gladde rotse, klam gras ens en moet nooit kanse vat nie. Ongelukke gebeur binne sekondes. Baie simpatie met haar familie en vriende.

B ·

Gray’s kan maar rof wees, en dis nie wenslik om alleen (en sonder voldoende kennis van die gebied) daar rond te klouter nie.
Baie hartseer vir die familie :(
Het hulle ooit die register geteken, of was hierdie sommer ‘n ‘impromptu’ stappie? (Want dan sou hulle dalk bewus geword het van al nodige voorbereiding)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.