Berig oor Thales-omkopery “slegs gerugte”

Argieffoto Foto: armyrecognition.com

Argieffoto Foto: armyrecognition.com

Die ANC het Sondag gesê ʼn berig in die Sunday Times oor bewerings van omkopery tussen pres. Jacob Zuma en die Franse wapenmaatskappy, Thales, is bloot gerugte.

“Die storie is hoorsê en probeer gerugte versprei,” het Zizi Kodwa, woordvoerder vir die ANC, gesê. “Die storie is nie waar nie. Dit probeer agterdog wek oor Zuma en die ANC.”

Die koerant het ʼn berig gepubliseer waarin hy aanvoer dat Zuma in 2000 omkoopgeld van R500 000 per jaar van Ajay Sooklal aanvaar het, deur die kodewoord “Eiffeltoring” te gebruik. Sooklal is glo ʼn “fixer” vir Thales.

Thales se Suid-Afrikaanse filiaal, Thint, is een van die maatskappye wat verbind word aan die omstrede wapentransaksie. ʼn Multi-miljard rand kontrak is in 1997 aan Thint toegeken om vier nuwe fregatte van die vloot uit te rus.

Die berig beweer ook dat Mendi Msimang, voormalige tesourier-generaal van die ANC, ʼn tjek van €1 miljoen van Thales ontvang het.

Kodwa het die bewerings van die hand gewys en gesê dit poog slegs om die indruk te skep dat die ANC “verbind is aan sekere gewetenlose organisasies, verenigings of maatskappye”. Hy het gesê die party is nie geraak deur hierdie tipe taktiek nie. “Ons was nog nooit bekommerd nie,” het hy gesê. “Ons fokus op ons werk. Die berig probeer ons aandag aftrek.”

Kodwa het gesê die ANC hou boek van al sy donasies. “Die ANC het nog nooit só ʼn donasie ontvang nie.”

Hy het die Sunday Times veroordeel dat die koerant “ou onwaarhede” publiseer. “Hoekom wil julle leuens verkondig? Hoekom verkondig julle leuens in die Sunday Times?”

Hy het gesê enigiemand met inligting oor omkopery moet regter Willie Seriti kontak, wat die kommissie lei wat die wapenskandaal ondersoek. “Mense maak in die publiek baie geraas, maar wanneer hulle feite moet verskaf aan die kommissie, kan hulle nie hul bewerings staaf nie.”

Die bewerings in die Sunday Times het aan die lig gekom uit getuienis tydens ʼn vertroulike arbitrasieverhoor tussen Sooklal en Thales oor ʼn fooidispuut.

Zuma het die Seriti-kommissie van Ondersoek in 2011 op die been gebring om bewerings van korrupsie in die wapentransaksie te ondersoek. Die regering het onder andere 26 Gripen-vegvliegtuie en 24 Hawk-vegvliegtuie vir die lugmag en fregatte en duikbote vir die vloot aangekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

George Barnard ·

Vav Zuma kan jy enige iets verwag niks is meer snaaks waar sy naam by genoem word nie,soos n stoute klein seuntjie sonder ore

2Roedolf1 ·

Ja nee net soos die Russiese en Kubaanse storie ons glo jou Zuma ,onthou n soustrein loop net sover as wat die sous hou

Francois ·

Dit is nou al oor en oor en oor bewys – veral met ons regering – waar daar ‘n rookie is, is daar ‘n HELSE groot vuur!

EMK ·

@Francois – ‘n helse veldbrand, ja! Een wat totaal buite beheer is ook

anamari ·

Hoe demokraties is ons regtig as n man wat na bewering en volgens bewyse korrup is steeds die staatspresident is. Ons land sink maar ons kan nie van hom ontslae raak nie. Dit is n tragedie

JJ ·

Hoekom vat hulle nie die Sunday Times hof toe omdat hulle “onwaarhede” publiseer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.