Beriggewing oor Tembisa-10 van kortlys geskrap

Die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa. Langs haar sit haar man, Tobogo Tsosetsi. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Die beriggewing oor die omstrede Tembisa-tienling is van die lys van benoemdes vir ʼn internasionale nuusmediatoekenning geskrap.

Die Internasionale Nuusmediavereniging (Inma) se uitvoerende hoof, Earl J Wilkinson, sê in ‘n verklaring dié besluit is geneem nadat sommige mense hul bedenkinge oor die benoeming in die kategorie “beste gebruik van sosiale media”, onder beoordelaars se aandag gebring het.

Die benoeming “Baby Trade – Tracking the Truth”, deur Independent Media, is intussen van die lys van benoemings op Inma se webtuiste verwyder.

“Inma verstaan ​​hoe belangrik vertroue vir nuusmedia is. Die kortlysproses kan gebruik word, en is in hierdie geval gebruik, om bykomende inligting te verskaf waartoe die beoordelaars geen toegang gehad het ten tyde van die beoordeling nie.

“Ons het die geleentheid gebruik om inligting van alle partye te hersien wat verband hou met die bekommernisse wat geopper is. Na aanleiding hiervan het ons internasionale beoordelaars die inskrywing heroorweeg en dit is nie meer ’n finalis nie.

“Ons respekteer die jurie se besluit.”

Dit volg nadat Inma aanvanklik volgehou het dat hy nie in ʼn posisie is om die benoeming van die beriggewing om te keer nie, gegewe die inligting wat die jurie reeds in Februarie vanjaar tot sy beskikking gehad het tydens die beoordelingsproses.

Een van die jurielede, Thomas Baekdal, het intussen sy ontevredenheid met die benoeming op Twitter uitgespreek.

Baekdal het dit in ’n inskrywing op Twitter duidelik gestel dat hy Inma intussen versoek het om die betrokke inskrywing as ongeldig te verklaar.

“As ’n jurie neem ons aan dat al die inligting wat aan ons verskaf word akkuraat is, wat betref die uitslag en die inskrywing self. Ons doen dit bloot omdat daar geen manier is waarop ons die feitelikheid kan beoordeel nie. Ons moet vertrou wat aan ons vertel word.

“Tog, as ’n jurie, het ons die verantwoordelikheid om nie net die resultaat te beoordeel nie, maar ook hoe dit bereik is. Ek het byvoorbeeld twee inskrywings gediskwalifiseer in die kategorie wat ek beoordeel omdat die benadering wat hulle gebruik het, vyandig teenoor die leser was.

“So wanneer ons nou hoor dat ’n inskrywing opgemaak is en die resultaat bereik is op grond van onwaarhede … en nog erger, dat Inma weier om die benoeming ongeldig te verklaar, neem ek as ’n jurielid diep aanstoot.

“Dit benadeel die aansien van Inma as ’n organisasie en dit benadeel die aansien van ons as jurielede.”

Baekdal het intussen op sy Twitterrekening bevestig dat die benoeming geskrap is. Dit is egter nie duidelik of Baekdal se uitlatings op sosiale media enige invloed op Inma se besluit gehad het nie.

Maroela Media het vroeër berig die storie oor die sogenaamde Tembisa-tienling is verlede jaar deur Pretoria News gebreek en het met foto’s van ’n hoogswanger 37-jarige Gosiame Thamara Sithole met haar man, Tobogo Tsosetsi, gespog. Die geboorte van die sogenaamde “Tembisa‑10” is van die begin af uit verskeie oorde, onder meer deur die regering, as fopnuus bestempel. Dit nadat nie ʼn enkele foto van die babas opgespoor kon word en niemand hulle skynbaar met ʼn oog gesien het nie.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het na afloop van die benoeming, ’n skrywe aan die organiseerders gerig om sy kommer uit te spreek.

Volgens Sanef is die beriggewing van die Tembisa-tienling feitelik onakkuraat en dra dit by tot die verspreiding van disinformasie, wat lesers doelbewus mislei.

Die forum het verder daarop gewys dat die tien babas nog nie met ’n oog gesien is nie en geen bewys is nog ooit gelewer dat hulle wel bestaan nie.

Die wenners van die Global Media Awards sal op 8 Junie bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Behalwe die 101 ling…waars Piet die verslaggewer wat die storie aanmekaar gelieg het?

Jack ·

Eg Suid Afrikaans. Die wereld bly maar aan die lag vir ons narre. Ons behoort in te skryf vir die Guinnes Book Of Records vir die wereld se grootste sirkus.

Sandra ·

Ek is bly, want die berig kan nie die beste gebruik van sosiale media verteenwoordig nie. Die hele ding was dan ‘n klug. So as mens lieg, dan kom jy vir die toekenning in aanmerking?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.