Berigte oor Oscar se moniteringstoestel “onwaar”

Oscar Pistorius op 3 Maart 2014 in die hof Foto: Herman Verwey/Media24 - POOL (SAPA)

Oscar Pistorius op 3 Maart 2014 in die hof Foto: Herman Verwey/Media24 – POOL (SAPA)

Die departement van korrektiewe dienste het Dinsdag berigte, dat die veroordeelde Oscar Pistorius nie op korrektiewe toesig vrygelaat kan word nie omdat ʼn elektroniese moniteringstoestel nie aan sy enkel vasgebind kan word nie, verwerp.

“Die departement verwerp enige gerug wat poog om enige besluit vooraf te gaan wat geneem sal word oor die betrokke oortreder,” het Manelisi Wolela, woordvoerder vir die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die departement versoek die media om nie onverantwoordelike beriggewing te doen nie en om die nuus juis, korrek en regverdig te weergee.”

Wolela het gesê volgens regulasies moet die elektroniese moniteringstoestel kompak en onopsigtelik wees en ʼn persoon onder korrektiewe toesig toelaat om so ver as moontlik met sy normale daaglikse taak voort te gaan. “Die toestel kan aan die enkel of aan die persoon se pols vasgebind word, solank die persoon se gesondheid nie daaronder ly nie.”

Pistorius is op 21 Oktober 2014 vyf jaar tronkstraf opgelê op aanklag van strafbare manslag nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis dood geskiet het. Hy is ʼn verdere drie jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is omdat hy ʼn vuurwapen in Januarie 2013 in ʼn Tasha’s-restaurant in Johannesburg laat afgaan het. Regter Thokozile Masipa het gesê die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het verlede week aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis, gebaseer op ʼn interpretasie van die wet. Die aansoek sal in Desember aangehoor word.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa ·

Goeie Hemel tog mense !!! Ontspan nou net en laat los nou die saak en Oscar onderwerp. Kry ‘n stokperdjie !!!

Elizabeth ·

Uggg, Theresa ek stem so saam – ek het nie eers die berig gelees nie, wou net beslis my eiertjie lê dat ons nou al kan iets oorkom as ons iets oor Oscar sien. Elke keer wat die man tandeborsel, toilet toe gaan, sy hare kam – watookal, moet die koerante daaroor berig – dis nie asof daar nie ander dinge is om oor te skryf nie!

Etienne ·

Ek stem saam… Laat Oscar eers sy tronksel gewoond raak en die privileges geniet wat veroordeelde gevangenes daagliks moet deurmaak voor hulle sy parool party try reël.
Die hof het Reeva ‘n onreg aangedoen met sy skuldigbevinding en vonnisoplegging! Ek vertrou sy tweede verskyning voor die hof gaan meer gebalanseerd en regverdig geskied en dat ‘n beter en sterker vonnisoplegging sal plaasvind.

Estelle ·

Goeie Genade. Kan niemand die man uitlos nie. Hy is klaar veroordeel maak nie saak wat die vonnis is nie hy is in die tronk. Net God kan oordeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.