Berigte oor Zuma, Ramaphosa-vergadering is ‘verdraai, verkeerd’

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa (Foto: ANA)

Die presidensie het Sondag “verdraaide, verkeerde berigte” in die media oor ʼn onlangse vergadering tussen pres. Jacob Zuma en adjunkpres. Cyril Ramaphosa, die nuwe ANC-president, verwerp.

Die presidensie neem kennis van “verskeie verdraaiings” in mediaberigte wat betref die vergadering tussen Zuma en Ramaphosa op 7 Januarie by die amptelike Dr. John Langalibalele Dube-woning in Durban, het Zuma se woordvoerder, Bongani Ngqulunga, in ʼn verklaring gesê.

“Die hoofde het hul eerste formele vergadering gehad ná die adjunkpresident die amp van president van die regerende party, die ANC, ingeneem het,” het hy gesê.

Hulle het verskeie kwessies bespreek, “en mekaar op hoogte gebring oor sake in die regering en die regerende party”. Zuma en Ramaphosa het alleen vergader en berigte dat ander leiers teenwoordig was, is vals.

Zuma het Ramaphosa onder andere op hoogte gebring oor “sy planne om ʼn kommissie van ondersoek oor staatskaping aan te stel”, het Ngqulunga bygevoeg.

“Daar is ook valse berigte dat pres. Zuma geëis het dat die voormalige voorsitter van die AU-kommissie, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, aangestel moet word as adjunkpresident van die Republiek. Daar was hoegenaamd nie só gesprek nie en geen só eis is op enige plek deur pres. Zuma gemaak nie,” het hy gesê.

Zuma en Ramaphosa het tydens die vergadering besluit om gereeld bymekaar te kom. hulle het aangedui dat die vergaderings nou noodsaaklik is om sinergie te verseker tussen die regerende party en die regering, aangesien Zuma nie meer ʼn lid van die ANC se nasionale beamptes, beter bekend as die topses, is nie.

Dit stel Ramaphosa in staat om Zuma op hoogte te hou van die kwessies wat deur die leierskap van die regerende party bespreek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wouter ·

Hoe sal hy weet wat gesê is as die twee alleen vergader het? Lieg erger as n tande trekker.

Arie ·

Zuma het al so baie verdraaiings en ontkennings, wat later as onwaar bewys is, die wereld ingestuur dat enige ontkenning nou deur kenners eerder as erkennings beskou word.
Die NDZ saak het nog lank nie gaan lê nie.
Daarvoor is Mnr Z glad en al te slinks.
Op die oog af mag dit do wees maar dit gaan later opduik as n versoek wat polities op daardie tydstip nie verwerp kan word nie a la die mafia genruik van ” mzke you an offer you cannot refuse” of anders ” make you an offer you can only refuse at your own peril”

Daan ·

Hulle het geen probleem om te lieg nie, eers was dit”we will investigate”nou het hulle weer die woord fobnuus geleer nou is alles weer fobnuus.

Grassie ·

Ek glo nie die berigte is verdraai nie. Zuma het voor die beraad al gekom met die versoek dat daar meer as een adjunk-president moet wees. As hy sy eks daar ingewurm kan kry en Ramaphosa kom iets oor is die Zumas weer stewig in die saal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.